GEORGE NUUS - Luidens ‘n berig in die George Herald van 13 Januarie kon die wettige eienaar van ‘n hophuis in Rosemoor wat as ‘n winkel gebruik word, nie opgespoor word nie.
In reaksie op die berig en die herrie wat rondom die huiswinkel ontstaan het, het Elizabeth Lombaard die koerant geskakel. "Ek is nie vermis nie," het sy die George Herald telefonies meegedeel.
Lombaard se hophuis het aandag getrek nadat ‘n inwoner van Rosemoor, Leon Rothman, asook raadslid Lionel Esau die perseel besoek het.
Die hophuis word tans verhuur aan twee Etiopiese broers wat die plek in ‘n winkel omskep het.
Volgens Esau is hierdie gebruik van ‘n hophuis totaal onwettig, aangesien dit opgerig is met die doel om die behuisingsnood te bestry.
Lombaard het die hophuis geërf na haar man, Hendrik Balie, se afsterwe verlede jaar.
Die gemeenskap is verdeeld oor die saak. Waar nabye bure kla oor die winkel wat as trekpleister vir ongewenste karakters en bedrywighede dien, is daar baie inwoners wat dankbaar is dat daar ‘n winkel binne stapafstand is wat so ‘n wye verskeidenheid goedere aanhou. Daar is ook aantygings van jaloesie jeens die winkelier wat die rondte doen.
Elizabeth se storie
"Ja, ons was vir 25 jaar vervreem van mekaar, maar ek het vir baie jare gehoop ons kan weer by mekaar uitkom," vertel Elizabeth wanneer sy gesels oor haar oorlede man, Hendrik Balie.
Balie het vir jare by haar ma geloseer, maar toe hy ‘n vaste verhouding met Annie Boesak begin, het Elizabeth besef hulle sal nooit weer die stukke van hul huwelik kan optel nie.
"Toe Hendrik sterwe, het ek vir Annie gesê die huis behoort aan my kinders. Ek het haar drie maande gegee om ‘n ander blyplek te vind," vertel Elizabeth.
Intussen het Elizabeth baie probleme gehad met vorige huurders.
"Hulle was almal tikkoppe en dronklappe wat van my huis ‘n hoernes gemaak het.
"Ek kon enige tyd van die dag daar instap dan lê die meidjies daar rond," sê sy.
Elizabeth het geglo dit is die regte ding om die huis intussen aan die Etiopiërs te verhuur. Sy glo hulle maak ten minste ‘n verskil in die gemeenskap en betaal hul huur getrou.
"Ek het nie geweet dit is onwettig om die huis as ‘n winkel te gebruik nie. Die Etiopiërs het wel intussen kennis van my prokureurs gekry. Hulle sal in Maart-maand uit wees," sê sy.
Lees 'n verwante artikel hier: www.georgeherald.com/news.aspx
Inwoners krap kop oor die winkel se voortbestaan. Heelparty inwoners sou graag wou sien dat die winkel bly.
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR