GEORGE NUUS - Plaaswerkers en die boer van die plaas Riverlea in Waboomskraal het verlede Donderdag groot geskrik toe een van die werkers deur 'n boomslang gebyt is. Die slagoffer, Mitchell Corner (24), was deel van 'n span wat pere in 'n vrugteboord op die plaas gepluk het.
Hy vertel: "Ek was besig om 'n peer af te pluk toe ek ewe skielik 'n skerp brandpyn in my hand voel. Ek het op daardie oomblik nie gekyk waar ek pluk nie, maar toe ek my kop draai om te sien wat pyn so, sit die slang se kop op my hand met sy tande vas in my vel. Ek het dadelik van die leer waarop ek gestaan het, afgespring en die slang het sy kop weggeruk."
Corner, 'n inwoner van Bridgeton, Oudtshoorn, sê hy het hom boeglam geskrik. Ander werkers het die plaaseienaar, Justin Thomas, in kennis gestel wat dadelik met Corner na Mediclinic George vertrek het.
Volgens dr. Isabel van der Merwe, hoof van die noodeenheid, moes hulle teengifmiddel van Johannesburg af bestel omdat dit nie in voorraad gehou word nie.
"Dis 'n baie rare verskynsel dat iemand deur 'n boomslang gepik word. 'n Slagoffer toon ook eers simptome van 24 uur of langer na die byt so daar is dus tyd om die middel hierheen te koerier. Ons was egter ietwat angstig dat dit nie betyds hier sou aankom nie en het die plaaslike veeaarts, dr. Awie de Villiers, genader. Hy het die vorige dag toevallig in 'n gesprek aan my genoem dat hy teengif het."
Boomslanggif is hemotoksies en verander die bloedstollingsprofiel van die slagoffer, wat lei tot inwendige bloeding.
Mitchell Corner in die Mediclinic se intensiewesorgeenheid. Foto: Alida de Beer
Van der Merwe sê hulle het die pasiënt se bloedprofiel gemonitor om eers seker te maak dat dit nie 'n "droë" byt was nie, voordat die teengif toegedien is.
"Daar is altyd 'n risiko van anafilaksis met toediening van teengif. Ons het die slangkenner van Pretoria, Johan Marais, ook gekontak en hy kon ons mooi raad gee oor die prosedure wat ons moes volg."
Corner het die teengif teen ongeveer 13:00 Vrydagmiddag ontvang toe sy bloedprofiel wel begin verander het. Hy is vroeg hierdie week ontslaan en is tans op 'n paar dae siekteverlof.
Van der Merwe sê Mediclinic is van voorneme om ná hierdie voorval 'n ring van teengif onder veeartse en hospitale in die Suid-Kaap te vestig wat onderling kan saamwerk om te verseker dat die middels plaaslik beskikbaar is.
Dr. Awie de Villiers van Vitalvet het toevallig met Mediclinic George se noodeenheidhoof, dr. Isabel van der Merwe, in sy winkel gesels die dag voordat die slangbytpasiënt van Waboomskraal by hulle opgeneem is.
"Gelukkig het ek Isabel toevallig vertel van 'n hond wat ons ongeveer 'n week vantevore suksesvol vir boomslangbyt behandel het en ek het genoem dat ons teengif in voorraad het."
De Villiers sê een ampule van die teengif kos R8 000 en twee ampules is gewoonlik nodig om 'n slagoffer te behandel. "Die hoë koste en die feit dat die middel binne 'n jaar verval, maak dat praktyke dit oor die algemeen nie aanhou nie. Die teengif word ook nie dadelik toegedien nie."
Samewerking tussen diere- en mensdokters
Dr. Laura Snyman van Vitalvet sê 'n wonderlike storie waar samewerking tussen veeartsenykunde en mediese sorg lewens gered het, het ontvou. Hulle hondepasiënt het ingekom ná aanvanklike behandeling vir boomslangbyt by 'n ander veearts.
"Haar bytplekke en inspuitingsplekke het gebloei, en haar lewe was in gevaar. Nadat ons spesifieke boomslangteenserum van Heatherlands Vets gekry het, het ons haar oor die naweek behandel, en gelukkig het sy oorleef. Weens 'n toename in boomslangbyt-gevalle, het ons besluit dat beide Heatherlands en Vitalvet hierdie baie duur medikasie in voorraad sal hou, net ingeval.
"Gelukkig het ons dit gedoen, want die volgende dag was daar 'n menslike slagoffer, en Mediclinic George het ons genader om ons teenserum te gebruik. Dit is wonderlik om hierdie plaaslike samewerking tussen veeartsenyklinieke en dokters te hê. Dis die beste manier om lewens te red."
Die Great Dane se lewe is ook gered toe sy teengifmiddel gegee is. Foto verskaf deur Vitalvet
Eerste voorval op plaas
Volgens Riverlea se plaas-eienaar, Justin Thomas, het hulle nog nooit 'n slangbytvoorval op die plaas gehad het nie, hoewel boomslange redelik algemeen voorkom."Ander boere in die omgewing, waar honderde mense in die boorde werk, sê dieselfde.
"Ek het dieselfde dag ook 'n pofadder by my huis gehad. Omdat slange op die plaas voorkom, lewer ons van tyd tot tyd veiligheidspraatjies vir ons werkers, en dit sluit opleiding in protokol rondom slange in."
Johan Marais, uitvoerende hoof van die Afrika-slangbytinstituut, sê 12 mense word per jaar deur boomslange gebyt uit 'n geraamde 4 000 gevalle in Suid-Afrika.
"Tussen 700 en 800 van die gevalle meld by hospitale aan van wie slegs 10% teengif nodig het."
'n Tekort aan teengif word al vir die afgelope drie jaar in die land ervaar, behalwe in die geval van boomslangteengif weens die lae vraag daarna.
Boomslangteenserum. Foto verskaf deur Vitalvet
Teengif word deur die Suid-Afrikaanse Entstofvervaardigers (SAVP), 'n onderafdeling van die Nasionale Gesondheids-laboratoriumdiens (NHLS), vervaardig. Marais sê die rede wat aangevoer word vir die tekorte is opknappings wat blykbaar aan die fasiliteite gedoen word.
Hy maan mense om op die uitkyk te wees vir slange, want ons is midde-in die slangseisoen. "As jy vyf treë weg is van 'n slang, is jy veilig. 'n Slang sal slegs byt uit desperaatheid, so beweeg net weg as jy op een afkom."
Iemand wat deur 'n slang gebyt word, moet dadelik na 'n hospitaal se noodeenheid gaan. "Jy gaan nie na 'n dokter toe nie. Die gevaar is dat jy kan ophou asemhaal en by 'n noodeenheid kan jy onmiddellik behandeling kry."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’