OUDTSHOORN NUUS - Na ses jaar van dienste aan diere op Oudtshoorn lewer, weet die personeel van PDSA (People's Dispensary for Sick Animals) nie of hulle meer daarvoor kans sien nie.
Dit volg nadat een van hul personeellede, wat elke Dinsdag met die mobiele kliniek van George af Oudtshoorn toe kom, in Dassieweg geroof en gedreig is.
Moira Gibbs, die bestuurder van PDSA, sê hulle lewer al die afgelope ses jaar bekostigbare dienste aan siek diere in Oudtshoorn, maar weet nie of hulle weer na Dinsdag se voorval sal terugkeer nie.
Volgens Gibbs het die vroulike lid oudergewoonte met die mobiele kliniek in Dassieweg gestaan toe sy deur 'n man genader word.
"Hulle was drie wat buite die kliniek gestaan het. Sy het aanvanklik nie veel daarvan gedink nie omdat mense maar rondstaan. Hy het gesê hy soek 'n inspuiting vir sy hond en sy het gesê dit kos R60. Hy het R40 uit sy sak gehaal en 'n glas het uit sy sak geval en gebreek. Die lid het gevra dat hy gou moet uitstap dat sy kan skoonmaak en hy het die gebreekte glas opgetel en wou haar steek. Twee ander mans het toe ook in die kliniek ingeklim."
Gibbs sê die lid het haar weg deur die mans gebeur en probeer weghardloop, maar is deur een van die mans gejaag.
"Sy het geval en haar selfoon het uitgeval. Die ander twee mans het deur die inhoud van die kliniek gegaan en R600 gesteel. Ons is nie op die stadium seker of daar medikasie gesteel is nie, maar dit lyk darem nie so nie."
Volgens haar het 'n polisieman in 'n bakkie in Dassieweg gery en gesien dat daar 'n struweling is en die lid te hulp gesnel.
"Dit is 'n tragiese voorval. Die geld wat ons verloor sou ander diere kon help. Ons moet die lid se selfoon ook vervang. Sy het 'n groot skok weg. Ek weet nie of sy weer kans sien om op Oudtshoorn te werk nie."
Volgens Gibbs het die lid ligte beserings tydens die val opgedoen.
Gibbs sê sy sal met die personeel vergader en hoor of hulle nog kans sien om die mobiele kliniek na Oudtshoorn te bring.
"Dit is betreurenswaardig. Dit is die diere wat hieronder ly, maar as ons nie veilig is as ons dienste verrig nie, hoe moet ons maak?"
Sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê, 'n roofklag word ondersoek.
"Die polisie is steeds op soek na die verdagtes."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'