GEORGE NUUS - Miljoene liters water wat uit die Tuinroetedam gelaat gaan word tydens die konstruksieprojek om die damwal te verhoog, is beskikbaar vir boere in die droogteteisterde Oudtshoorn en omstreke.
Die logistiek om die water daar te kry, is egter 'n groot struikelblok, sê Pieter du Plessis van South African Water Warriors, wat die beskikbare water as 'n gulde geleentheid sien om boere te help.
Du Plessis sê die George-munisipaliteit het toestemming gegee dat Water Warriors ('n geregistreerde nie-winsgewende organisasie) reëlings mag tref met die kontrakteur wat die damwalprojek behartig.
"Ons moet net 'n paar veiligheidsaspekte bespreek. Ons gaan kyk of ons tenkers kan reël. Die water is vir diere en vir besproeiing. 'n Punt waar ons water uit die dam gaan pomp, sal opgesit word. Ons doen 'n ernstige beroep op George se besighede wat vervoer kan verskaf om ons te help. Baie van die Oudtshoorn-boere het nie eers brandstof om self voer vir diere of water te kom haal nie."
Die nood is ook groot in die omgewing van De Rust, Rooiheuwel en Volmoed. Water Warriors is vir geruime tyd besig met hulpverlening in die gebied.
"Ons probeer ongeveer 150 gesinne op plase help. Weens die voortslepende droogte oor die afgelope paar jaar is die nood nie net aan water nie, maar ook voer, hondekos en kos vir die boere self en hul werkers. Die meeste het al hul finansiële bronne uitgeput."
Mense kan help deur skenkings van hondekos, water, huishoudelike produkte, kos of vervoer.
Tenkwaens is dringend nodig vir die vervoer van die damwater oor die berg. Bel Pieter du Plessis by 076 223 1209 as jy kan help.
Die droogtetoestand is duidelik uit hierdie lugfoto's van die landskap in die Oudtshoorn-streek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'