GEORGE NUUS - Die Conville-polisie ondersoek twee moordsake ná 'n 18-jarige seun en 'n 33-jarige man, verlede naweek tydens twee afsonderlike voorvalle in Conville en Parkdene, vermoor is.
Die eerste voorval het Saterdag 4 Junie, omstreeks 23:30, op die hoek van Swawel- en Mentzstraat plaasgevind.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is polisie na die toneel ontbied waar hulle die slagoffer met 'n steekwond aan sy nek gevind het. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.
'n 18-jarige verdagte is later in die omgewing in hegtenis geneem. Hy is in aanhouding geplaas en was geskeduleer om Dinsdag 7 Junie in die plaaslike landdroshof te verskyn. Die saak is egter vir 'n onbekende rede nie op die rol geplaas nie en die verdagte is vrygelaat.
Kort na 05:00 die volgende oggend, Sondag 5 Junie, is polisie ontbied na 'n toneel op die hoek van Ballotstraat en Circular-rylaan in Parkdene, waar 'n 33-jarige man wreed aangerand en vermoor is.
"Daar word beweer dat die slagoffer en sy vriende in die straat geloop het toe 'n groep, gewapen met pangas, hulle genader het. Hulle het die 33-jarige man aangerand. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar," sê Spies.
Vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 17 en 35, is later dieselfde dag in hegtenis geneem.
Drie van die vyf verdagtes het op Dinsdag 7 Junie op aanklag van moord, in die hof verskyn waarna die saak tot 14 Junie uitgestel is.
Nog aanklagte kan bygevoeg word soos die ondersoek ontvou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'