GEORGE NUUS - Dié verdwaalde springbokooi wat Dinsdagoggend, 15 November, in Mannstraat gewaar is, is later veilig vrygelaat in Oubaai.
Volgens natuurbewaring behoort sy nie aan Blue Mountain of Kingswood nie, so hoe sy in die strate van George beland het weet nugter alleen.
"Ek en my vrou het omstreeks 07:00 van ons huis in Loeriepark, werk toe gery. Toe ons by die kruising kom staan die springbok daar. Ek het dit onmiddellik op Georgiete Staan Saam geplaas en die DBV gebel," vertel Stefan van Zyl wat op die bokkie afgekom het.
Met die hulp van 'n lid van die publiek, Hertzog Theron, kon die DBV haar dieselfde dag vang en na hul kliniek neem om 'n paar klein beserings te behandel.
Sy is deur natuurbewaring in Oubaai vrygelaat waar sy 'n lewe van luuksheid saam met ander van haar spesie kan geniet.
Sy is vir klein beserings deur die DBV se veearts, dr. Mark Chimes, behandel waarna sy deur natuurbewaring in Oubaai vrygelaat is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'