GEORGE NUUS - Vyftien jaar gelede het eiendoms-ontwikkelaar Frik Labuschagne en sy gesin hulle wortels in George kom plant toe hy die George-toeristeoord, tans Mount View gekoop het met 'n ambisieuse visie vir die ontwikkeling van dié baken in Yorkstraat.
Ná 'n paar groot struikelblokke wat hy moes oorkom, begin sy planne nou in plek val. Die grond gaan oor die volgende paar jaar omskep word in 'n klein woonbuurt van 225 wooneenhede.
En as 'n bonus wat Labuschagne destyds nie voorsien het nie, gaan Mediclinic George 'n wêreldklas streekhospitaal op sy grond oprig nadat George-munisipaliteit onlangs die groen lig vir die projek gegee het.
Die rondawels aan die westekant van die perseel word gesloop om plek te maak vir die hospitaal, wat 'n harteenheid sal bied.
Daarbenewens gaan Labuschagne ook 'n sub-akute hospitaal oprig. Die bestaande besigheidsperseel, wat voorheen 'n kegelbaan en restaurant gehuisves het, word gemoderniseer en sal ook gevul word met medies verwante diensverskaffers soos oogkundiges en tandartse.
"Die gimnasium word behou en sal beskikbaar wees vir rehabilitasiedoeleindes. Die idee is dat inwoners nie van die perseel af hoef te gaan vir enige mediese dienste nie," sê Labuschagne.
Langs die bestaande toegangshek word 'n nuwe gebou opgerig met Spar, Doctors for You en klein besighede soos 'n haarsalon en skoonheidsalon.
Labuschagne se ontwikkeling, wat bekend-staan as 1 On York Lifestyle Village, sal 'n inspuiting van R660 miljoen vir George bring met 'n bykomende R1 miljard wat Mediclinic gaan spandeer.
Die rondawels gaan gesloop word om plek te maak vir Mediclinic George se nuwe hospitaal. Regs is die bestaande kommersiële gebou wat gemoderniseer sal word om uiteindelik mediesverwante huurders te akkommodeer.
Die eerste konstruksiefase skop in Julie af met die skep van twee verkeersirkels in Yorkstraat waar die twee ingange na die ontwikkeling geleë sal wees. In Augustus begin diensteopgradering wat grootliks 'n uitbreiding van elektrisiteitskapasiteit vir die hospitaal behels.
"Ek voorsien dat bouwerk aan die behuising binne twee jaar voltooi sal wees. Dis beslis nie 'n aftree-ontwikkeling nie. Ons wil inwoners van alle ouderdomme hê, want ons voel daar is 'n sinergie wat verlore gaan as jonger en ouer generasies geskei word. Tog moet dit moontlik wees om 'n verswakte senior met 'n rolstoel van die huis af na 'n tandarts of dokter te neem."
Die ontwikkeling sal 'n viervlak-woonstelblok met 74 woonstelle bied, 89 meenthuise en 'n groepbehuisingsgedeelte met 62 groter eenhede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'