PRINS ALBERT NUUS - Blessed by Bosasa: Inside Gavin Watson's state capture cult is die verhaal van die verryking van enkele gieriges ten koste van miljoene Suid-Afrikaners. Dié boek vertel hoe die geldelike seëninge as't ware op Bosasa gereën het - belastinggeld wat politici en Bosasa-hoës misbruik het om hulself binne dié korrupsienes te verryk.
Adriaan Basson, die skrywer, het sy gehoor verlede Saterdagaand in Prins Albert vasgevang gehou met sy vertelling oor sy jare lange pogings om die aktiwiteite van dié maatskappy oop te vlek.
Die gespreksleier, Dawid van Lill, het gesê hoewel die boek "maklik" lees, is dit ook "moeilike" leesstof,
omdat dit die leser konfronteer met enorme korrupsie. Terselfdertyd is die verhaal van Bosasa net 'n klein kolletjie binne die groter prentjie van staatskaping.
Gavin Watson, Bosasa se sleutelpersoon, het die maatskappy as 'n soort kultus bedryf, met vrees as sy wapen. Hy sou werknemers persoonlike beledigings toesnou of op hul gevoel speel deur 'n mantra soos Jesus loves you, of die Onse Vader agter hul lessenaars te laat opsê.
Tenderpreneurskap, of soos Basson dit noem, "Love me tenders", is bedryf deur die Bosasa Boys - onder andere Watson, Danny Mansell, Angelo Agrizzi en Joe Gumede - met die "Prison Boys" (oftewel die manne aan die spits by die departement korrektiewe dienste), Ngconde Balfour, Linda Mti en Patrick Gillingham, en die ANC-vroueliga wat deel was van die transaksiestruktuur. Uiteindelik, volgens Basson, het Bosasa die departement van korrektiewe dienste beheer.
Basson het gesê hy moes fyn trap in sy ondersoek- en skryfwerk. "Ek moes onder andere die grondwet en die perskode in gedagte hou. Ek het die boek volgens joernalistieke beginsels geskryf. Die positiewe aspek is dat 'n boek soos dié gepubliseer kón word - dit dui klaar op 'n stap in die regte rigting wat spraakvryheid betref."
Vroeër vanjaar moes hy voor die Zondo-kommissie getuig. Sekere mense is betaal om hom te dreig hieroor. Hy is swartgesmeer en belaster.
"Ek is jammer Gavin Watson het gesterf. Ek wou hom graag in 'n hof sien staan. Maar toe verander sy dood die wending van dié storie. Hy was 'n man wat seker gemaak het sy spore is doodgevee. Hy het nie e-posse geskryf nie. Hy het nie sómmer sy handtekening op dokumente gemaak nie."
Hy het baie ANC-leiers al gevra hoe hulle met die teenstrydigheid in dié party saamleef: "Aan die een kant skep hulle 'n vervolgingseenheid onder Willie Hofmeyr; aan die ander kant skep hulle 'n maatskappy soos Bosasa.
"Die goeie nuus is dat Suid-Afrika op 'n baie beter plek is as twee jaar gelede. President Cyril Ramaphosa, 'n slim man, het al baie goeie goed gedoen, soos om kommissies van ondersoek na korrupsie aan te stel. Dis geskep vir openbaarmaking. As dr. Nkosasana Zuma leier van die ANC geword het, was ons in groot moeilikheid. Daar ís hoop met Ramaphosa aan die spits."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'