Video
GEORGE NUUS - Hy het die telefoon geantwoord en een groot brullende gil gegee. Liandri Lamprecht (16) se ma het pas laat weet - sy het Miss Teen Grand International SA 2025 gewen!
George Herald het verlede week berig oor die spoggeleentheid in Johannesburg, met 'n foto van Liandri in 'n rok deur Andreio Fick. Een van George se bes bewaarde geheime, soos Elani Pretorius, die direkteur van Ace Models Mosselbaai & George, na hom verwys.
Andreio het reeds gesien hoe Liandri 'n kroon ontvang, dae voor dit gebeur. Hy het immers ses rokke vir hierdie talentvolle model gemaak om saam te neem vir die geleentheid. Die rok wat sy met haar kroning gedra het bevat meer as 2 000 Swarovski-kristalle wat hy met die hand aangewerk het.
Nou moet hy lap en gare nader trek vir die volgende reeks wat in Peru met die internasionale byeenkoms vertoon gaan word.
Boerseun van Namibië
Op 'n gewone dag in die strate van George sal g'n mens vermoed dat Andreio, met sy stewige handdruk en boerseunbou, 'n skepper is van couture, matriekafskeiddrome en troubeloftes nie.
Andreio by sy staatmaker, ’n Elna-naaimasjien wat aan sy geliefde se ma behoort het. Foto: Michelle Pienaar
Hy is gebore en getoë in die vlaktes van Namibië, Otjiwarongo, waar hy reeds as kleuter op vyfjarige ouderdom anders na dinge begin kyk het.
"My ma het hierdie Biggie Best-gordyne gehad, en ek het nie gedink sy gaan die stuk onderaan die soom mis nie," vertel Andreio.
"Ek het vir my die mooiste kabouterskoentjies gemaak, met 'n klokkie aan die punt, waarmee ek kon spog - totdat my ma later die middag besef wat ek gedoen het en my boude gebrand het. Jy weet, ek het die patroon volgens my voete afgetrek en met die hand gestik."
Jare later het Andreio sy begeerte om modeontwerp te studeer met sy ouers gedeel, maar hulle het nie sy passie gedeel nie. "Dit was eenvoudig nie iets wat hulle gevoel het 'n man behoort te doen nie," sê hy.
Hierdie dame het Andreio deur interessante tye vergesel.
Moeilike tye
Andreio se lewe het 'n lang draai in die polisiediens gegooi, waar hy sy seer en trauma van kinderdae beveg het met gevaarlike operasies wat sy lewe deurentyd in gevaar stel. "Ek het vir 'n groot deel van my lewe voort geploeter. Ek het in wasems geleef," sê hy.
Op 'n latere stadium het hy gekwalifiseer as sjef en in die gasvryheidsbedryf gewerk. "Ek was fantasties daarmee, maar dit het my doodgemaak. Ek kon nie meer nie." Dit was tyd om te doen wat hy gebore was om te doen - rokke ontwerp en maak.
Rokke wat geduldig wag vir die regte prinses.
Haute couture
In die Covid-pandemie het Andreio amptelik met sy onderneming begin, met R500 in sy sak.
"My eerste rok was 'n trourok. Die vrou het die rok gedra, teruggebring, en nooit betaal nie," lag hy.
Vanjaar pryk 65 matriekleerders, drie bruide en vier strooimeisies in rokke wat deur Andreio gemaak is. "Ek het reeds 21 matriekafskeidrokke vir volgende jaar," sê hy.
Voor hy knip, bid hy oor die lap. "Dit is 'n hele gedoente," sê Andreio.
"Jy hoor my sommer hard en duidelik. Wanneer ek iets beplan is dit mos 'n karnaval!" Hy werk lang ure, tot vroegoggend, want dit voel nie soos werk nie.
Andreio neem nooit mates nie. "Ek weet nie hoe dit werk nie. Ek weet net presies hoe dit moet lyk. Dit gebeur alles hier binne," sê hy, en wys na sy kop.
Hierdie omkapmasjien het eenvoudig verskyn met die uitpak van bokse toe Andreio in sy huis intrek. “Ons het geen idee waar dit vandaan kom nie, maar dit is ’n blessing.”
VIDEO - Andreio gesels oor Liandri se groot oomblik:
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’