Ruiters is Saterdagmiddag in hegtenis geneem nadat sy suster Vrydagaand die liggaam van Shafeeka in sy opslaanhut ontdek het.
Shafeeka het Vrydagaand tussen 18:00 en 19:00 vermis geraak nadat haar oupa Johannes Abrahams, haar gestuur het om geld by 'n kennis te haal. Volgens Abrahams en Shafeeka se ma, Verity Baartman, is Shafeeka net voor halfsewe by die huis weg en hulle het bekommerd geraak toe sy na sewe-uur nog nie terug was nie.
"Ek het haar al dikwels soontoe gestuur, want dit is nie ver nie en dit het nog nooit so lank gevat vir haar om terug te kom nie," het Abrahams, wat vir die grootste gedeelte van die dag in 'n stoel vasgekluister sit, gesê.
Verity het Maandag vertel dat hulle in die buurt rondgevra het en toe uit radeloosheid die polisie gebel het. "Hulle het gesê die voertuig is Avontuur toe, hulle kan nie help nie, maar 'n paar minute later het die polisie toevallig verbygery en een van die buurtwag het hulle voorgekeer." Ondanks 'n soektog deur die polisie, lede van die buurtwag en die gemeenskap was daar egter geen spoor van Shafeeka nie. Verity vertel dat die persoon by wie Shafeeka die geld moes kry bevestig het dat die meisie net na halfsewe met R200 by haar weg is.
In die soektog na die meisie het Verity onder andere ook by die huis van Jannie Ruiters se familie gaan navraag doen omdat Shafeeka soms daar by maatjies gaan speel het. "Net na tien het Jannie se suster ons kom roep en gesê Shafeeka lê dood in Jannie se hok."
Volgens Verity het Ruiters se suster gesê dat hy baie rusteloos was na Verity se besoek en 'n klomp vrae gevra het oor die polisie en die vordering van die soektog. Dit blyk dat Rui-ters kort daarna padgegee het. Sy suster het 'n voorgevoel gehad dat als nie pluis was nie en in sy hut gaan kyk. Die meisie se liggaam was met 'n deken toegegooi en sy het die polisie in kennis gestel waarna sy die gesin gaan roep het.
Die polisie het bevestig dat Shafeeka se liggaam met haar bene vasgebind en 'n serp om haar keel gevind is.
Ruiters is Saterdagmiddag op 'n plaas naby Avontuur aangekeer nadat iemand die polisie in kennis gestel het dat hy by mense kuier. Dit blyk dat hy op die vlug geslaan het en deur 'n polisiehond aangekeer is. Sy prokureur het Maandag in die hof gevra dat landdros G. Essel die polisie moet versoek om Ruiters te help om 'n klag van aanranding te lê. Behalwe vir die bytplekke het hy ook 'n blou oog gehad.
Ruiters se hofverskyning Maandag het toevallig saamgeval met 'n geskeduleerde verskyning op 'n vorige klag van verkragting waarop hy op borgtog van R300 vrygelaat is. Landdros Essel het gelas dat hy in aanhouding bly tot 13 Januarie wanneer hy om 'n borgaansoek verskyn.
Buite die hof het 'n groot groep mense saamgedrom en drie petisies aan die aanklaer Gerda Marx, oorhandig waarin versoek word dat geen borg aan Ruiters toegestaan word nie. Die mense was ook hewig ontsteld toe die nuus onder hulle versprei het dat Ruiters se pa glo vir Ruiters van kos en klere voorsien het terwyl hy geweet het sy seun word deur die polisie gesoek. Marx het Dinsdag gesê dat 'n klag van verkragting bygevoeg sal word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is en verkragting bevestig is.
Volgens Shafeeka se gesin word sy Saterdag begrawe en het die gemeenskap aangedui dat hulle die gesin met kostes sal bystaan.
Staatsaanklaer Gerda Marx, verseker die gemeenskap dat die petisie wat deur hulle onderteken is en deur ds. Steven Anthony (regs van haar) oorhandig is, haar sal help om borg vir Jannie Ruiters teë te staan. Foto's: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'