GEORGE NUUS - Die Vryheidsfront Plus het 'n rowwe week agter die rug. Altesaam 75 verkiesings-plakkate ter waarde van R18 000 is binne een week tot niet.
"Van hierdie plakkate is gesteel en ander is gevandaliseer," het Gert van Niekerk van die VF Plus gesê.
"In Meyerstraat het mense Sondagaand met spuitkannetjies geloop en geslagsdele op ons plakkate gespuit. Sulke dade wys op morele verval. In ander gebiede word plakkate verwyder en vir isolasiemateriaal in plakkershutte gebruik."
'n Plakkaat kos ongeveer R240 indien die drukwerk, vervoerkoste en arbeid vir die opsit daarvan ingereken word.
Bywet
Volgens Van Niekerk is hierdie situasie deels te wyte aan die feit dat die DA nie genoeg plek op lamppale vir ander partye laat nie. "Dit is opmerklik dat die DA dikwels twee – soms tot drie – plakkate op 'n paal hang.
Hierdie plakkate is onder mekaar en nie rug teen rug nie. Die gevolg is dat ander partye wat by die reëls hou nie hulle plakkate hoog genoeg kan hang dat dit nie deur die publiek beskadig en gesteel word nie."
Luidens 'n munisipale bywet mag slegs een verkiesingsplakkaat per paal per party gehang word, tensy dit rug teen rug gehang word.
Van Niekerk was glo in gesprek met die munisipaliteit en die wetstoepassingsafdeling oor die kwessie. "Maar alles val op dowe ore," het hy gesê.
"Ons kan ook nie ons plakkate bo-oor die DA s'n hang nie, want dit is 'n kriminele oortreding. 'n Mens mag nie aan 'n plakkaat raak nie. Dis 'n skande dat die party wat in bewind is sy eie bywette so oortree en dat wetstoepassing niks daaraan doen nie."
Op 'n vraag oor die DA se plakkaatont-ploffing, het EFF-aktivis Hein Scheepers die VF Plus se klagte gerugsteun: "Hulle maak nie spasie vir die ander ouens nie."
Graffiti wat met 'n spuitkan op hierdie VF Plus-verkiesingsplakkaat (links) in Meyerstraat, tussen Vierde en Derdestraat, gespuit is, het politici warm onder die kraag. Daar is ook klagtes dat plakkate verwyder word en daar nie genoeg plek op lamppale vir ander partye se plakkate is nie.
Paalbesit
Volgens Marlene Barnardt, 'n DA-veldtog-bestuurder in George, is die DA se plakkate reeds 'n maand teen die lamppale op en was dit van die eerstes wat opgesit is. "In elke verkiesing is die oorlog vir die besit van die pale 'n heftige kwessie. Daar word altyd meegeding vir die beste posisie op pale. Dit is gewoonlik die party wat eerste op die pale verskyn wat die beste 'paalbesit' het," het sy gesê.
"Ons sit dit so hoog as moontlik op en volg die munisipale beleid tot op die letter," het sy gesê.
"Baie van ons plakkate is gevandaliseer en afgeruk, onder andere in Knysna- en Courtenayweg. Indien daar plekke is waar daar meer as twee plakkate op is, is ons nie daarvan bewus nie en sal dit waardeer as dit vir ons uitgewys word. Omdat die plakkate reeds amper 'n maand op was en daar verskeie wind en reënstorms was kan ons nie verantwoordelikheid neem vir plakkate wat rug aan rug was en dalk geskuif het nie.
"Hierdie week het ons mense wat instandhouding doen en hulle sal aandag gee aan plakkate wat dalk geskuif het of afgesak het."
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het Dinsdag bevestig dat die wetstoepassingsafdeling dadelik die saak sal ondersoek en daaraan aandag sal gee indien nodig.
"Alle politieke partye mag volgens die regulasies nie meer as een plakkaat vir 'n spesifieke kandidaat, of slagspreuk per party toegelaat word nie, met die veronderstelling dat twee plakkate rug aan rug op een paal geplaas kan word. Die munisipaliteit is nie bewus van sodanige plakkaatoortredings nie en spesifieke gebiede moet gegee word wanneer sulke klagtes gemaak word."
Op die pad na Groenkloof: Twee DA-plakkate onder mekaar, op een paal.
Middelvingers
Terwyl Scheepers verlede week gehelp het om EFF-plakkate teen lamppale vas te maak het hy tydens die uitvoer van sy taak uitdagings van 'n ander aard ondervind: "Verskeie motoriste, meesal wit mans, het vir my die middelvinger gewys," het hy gesê. "Maar dan is daar altyd die Go George-busbestuurders en trokdrywers wat vir ons hoot met die verbyry. Hulle ondersteuning word waardeer."
Amper in die kraal
Woord op straat is dat die ANC nog nie hulle plakkate opgesit het nie. "Ons het besluit ons gaan nie ons posters te vroeg opsit nie. Ons sal dit hierdie week nog kry," het Piet van der Hoven, plaaslike verkiesingskoördineerder van die ANC, gesê.
"Posters is 'n nice to have. Niemand gaan oortuig word om vir 'n party te stem deur 'n poster nie. Let wel, binne die volgende paar dae gaan ons die dorp groen en swart verf."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'