LEWENSSTYL NUUS - President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners aangemoedig om die Covid Alert SA slimfoon-nasporingstoepassing (app) te gebruik om die bekamping van Covid-19 onder Suid-Afrikaners te help teenwerk.
Met reg kan ons vra: "Wat doen die app? Hoe werk dit? Hoe veilig is dit?"
Die Covid Alert SA-naporingstoepassing is 'n relatief klein toepassing wat vanaf Google Play Store (vir Android-gebruikers) of die Apple App Store (vir Apple-gebruikers) afgelaai kan word. Dit kan deur die unieke logo geïdentifiseer word.
Wanneer jy die toepassing aflaai word 'n unieke kode aan jou selfoon toegeken. Geen private inligting, byvoorbeeld jou naam, identiteitsnommer, ensovoorts word gevra en gestoor nie.
Nadat dit afgelaai en aktief op jou slimfoon is, kommunikeer dit met ander Covid Alert SA-toepassings op ander slimfone. Hierdie kommunikasie vind plaas deur middel van Bluetooth-kommunikasie.
Sodra die Covid Alert SA-toepassing op jou foon in kontak kom (deur middel van Bluetooth) met 'n ander Covid Alert SA-toepassing ruil hierdie twee toepassings hul unieke kodes uit en stoor dit wedersyds.
Die reikafstand waarop die twee fone kan kontak maak is gewoonlik tot op so 10 meter onder ideale toestande.
Jou slimfoon stoor die unieke kodes van elke ander slimfoon met wie jy in kontak gekom het.
Jy sal natuurlik nie eers bewus wees van hierdie "ruiltransaksie" tussen die fone nie.
Jou Covid Alert SA-toepassing sal op gereelde basis (ongeveer een maal per dag) die unieke kodes van die ander toepassings met wie jy in kontak was, aan 'n sentrale databasis kommunikeer.
Indien enigiemand positief toets vir Covid-19, voer die betrokke persoon die inligting in op sy/haar Covid Alert SA-toepassing.
Die sentrale databasis kan nou bepaal met wie hierdie persoon die afgelope twee weke in kontak was en stuur gevolglik 'n boodskap na al die betrokke slimfone.
Op hierdie manier word jy in kennis gestel dat jy in die nabye teenwoordigheid van iemand was wat onlangs vir Covid-19 positief getoets het en dat jy moet uitkyk vir enige Covid-19-simptome.
Die toepassing gebruik baie min data, maar natuurlik moet jou Bluetooth-kommunikasie voortdurend geaktiveer wees. In baie gevalle, byvoorbeeld waar jou foon met jou horlosie kommunikeer, is jou Bluetooth-kommunikasie in elk geval geaktiveer.
Is dit veilig?
Met reg kan gevra word of die Covid Alert SA-toepassing veilig is vir die gebruiker vanuit 'n kubersekerheidsoogpunt?
Wel, die toepassing stoor of gebruik geen privaat inligting van die gebruiker nie.
Die toepassing maak ook glad nie gebruik van die kontakte (contacts) op jou foon nie en stoor ook glad nie jou posisie nie.
Daar is werklik geen inligting wat op enige stadium gevra of gestoor word wat jou privaatheid of anonimiteit in gedrang kan bring nie.
Dus blyk dit werklik 'n veilige toepassing te wees.
Gebruikers moet egter seker maak dat hul die korrekte toepassing aflaai en nie dalk 'n vals toepassing wat wel gebruikers se privaatheid kan skend nie. In hierdie stadium is ek egter nie bewus van enige sulke vals toepassings nie.
* Professor Rossouw von Solms is 'n emeritus professor in Inligtingsekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'