Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wyk 3 se nuwe wyksraadslid, Erika Brown, het vandag haar eerste raadsvergadering as DA-raadslid bygewoon.
Sy is volgens gebruik ingesweer as raadslid.
Dit volg nadat Brown die tussenverkiesing verlede Woensdag (21 November) in wyk 3 (Heatherlands, Heather Park, Glen Barrie en King George Park) gewen het.
Die DA-party het die wyk behou met 80,60% steun. Die voorlopige uitslag is as volg: DA 1001, ACDP 87 (7%), VF Plus 154 (12,40%) en EFF 0. In totaal het 1 242 kiesers hul kruisies getrek (39,87%) waarvan twee bedorwe stemme was.
Brown glimlag van oor tot oor wanneer sy oor dié nuwe uitdaging praat.
Ofskoon Brown vir die afgelope 15 jaar kleuterskoolonderwys gegee het, was sy vir etlike jare 'n luitenant-kolonel van die Suid-Afrikaanse Weermag in Pretoria waar sy navorsing gedoen het. Brown en haar man Sid woon reeds 20 jaar op George. Hulle het twee seuns, Walter en Byron.
Sy is vol lof vir die ongelooflike rol wat die buurtwagte tydens die George-brande gespeel het.
"Ek wil graag wyk 3 uitdaag om betrokke te raak in hul eie wyk, maar ook in die breër gemeenskap," het Brown gesê.
Betrokkenheid by die gemeenskap lê haar baie na aan die hart. Sy is self deel van verskeie uitreikprogramme wat onderwys gebaseerde ondersteuning aan gemeenskappe bied.
"My boodskap aan wyk 3 is: 'Wees die verandering wat jy graag wil sien," het Brown gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die DA-kandidaat, Erika Brown (links), geniet 'n vrolike oomblik met twee inwoners van Heatherlands, Dawn en George Horn, tydens die tussenverkiesing verlede Woensdag (21 November). Foto: Michelle Pienaar
Brown word as raadslid ingesweer.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'