GARDEN ROUTE | KAROO NEWS - SA for Hope, wat boere in droogtenood help, bied 'n lootjiekompetisie aan waarin deelnemers 'n ervaring ter waarde van R6 500 by Buffelsdrift Game Lodge net buite Oudtshoorn kan wen.
Die geskenkbewys wat Buffelsdrift aan SA for Hope geskenk het om 'n lootjiekompetisie aan te bied, sluit in 'n nag se luukse-tentakkommodasie asook 'n bossafari en olifantervaring vir twee persone. (Etes en drankies sal vir die wenners se eie rekening wees.)
Met die majestueuse Swartberge in die agtergrond en 'n groot watergat wat deur wild op jou voorstoep besoek word, is jy verseker om die hart van die Klein-Karoo te ervaar.
Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by Pieter du Plessis van SA for Hope by 076 844 6435. SA for Hope kan 'n 18A-sertifikaat uitreik vir belastingdoeleindes.
"Ons benodig alle moontlike fondse om ons boere en hul plaaswerkers wat deur die droogte geslaan is, te help. Organisasies staan gewoonlik bakhand en vra net, maar deur Buffelsdrift se ondersteuning en omgee kan ons hierdie keer vir 'n gelukkige persoon hierdie ongelooflike ervaring bied," sê Du Plessis.
"Ons weet dit gaan moeilik daarbuite, maar ons ervaar ook daar is mense met groot harte. Ons wil vir hulle baie dankie sê vir al hulle ondersteuning en omgee. Een uitreik aan 'n droogtegeteisterde gebied se kostes beloop ongeveer R400 000.
"Dit sluit in aankope, brandstof, voer, kruideniersware en water. Ons hoop dat hierdie kompetisie SA for Hope gaan help om te kan voortgaan met ons uitreike."
Onder die aanvoering van SA for Hope bring vrywilligers wat massa-skenkings van kos, voer en water aanry welkome verligting aan boere en plaaswerkers.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'