Meeste Suid-Afrikaners maak nie genoeg voorsiening vir hulle oudag nie. 'n Ongeveer 17 miljoen mense maak staat op die regering se pensioenuitkering. Soveel as 62% van mense wat 'n pakket neem herbelê dit nie.
PSG Konsult wat verlede Woensdag 'n inligtingsoggend by Hyatt Regency Oubaai, Heroldsbaai, gehou het het heelwat stof tot nadenke vir beleggers en voornemende beleggers gegee.
PSG se portefeuljebestuurder, Chris Wehmeyer, het aangedui dat dit 'n harde realiteit is dat sodra jy aftree, jy op jou eie fondse aangewese is. So ook bydraes tot 'n mediese fonds, en dikwels raak dit juis dán onbekostigbaar. Die gevolg is dat meeste mense aangewese is op staatshospitale en klinieke vir mediese dienste.
As gevolg van beter mediese dienste leef mense veel langer. Die langer lewensverwagtinge moet so bestuur word dat jou geld na aftrede tot 25 jaar lank moet hou. Vir dié rede kan baie mense nie bekostig om af te tree nie. Daar is dus diegene wat solank as moontlik aanhou met werk.
Na die 1994 verkiesings, het daar by baie voormalige staatsamptenare die vrees ontstaan dat die nuwe regering beslag sou lê op hul pensioen. 'n Groot persentasie, soveel as 65%, het nie hul skeidingspakket herbelê nie. Vele het dit geneem en belê in 'n twyfelagtige Ponzi tipe belegging, of 'n besigheid begin wat nie 'n sukses was nie en groot verliese gely.
Bestendige groei
Wehmeyer het verduidelik daar is 'n persepsie dat die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) 'n baie riskante belegging is. Indien 'n oudamptenaar 16 jaar gelede sy R1 miljoen skeidingspakket in 'n gebalanseerde fonds belê het, sou die fonds 'n saamgestelde groei van 16,5% per jaar gelewer het. Sy R1 miljoen sou oor dié tydperk gegroei het na R11,5 miljoen.
'n Belegging van R1 miljoen wat in 'n suiwer aandeleportefeulje belê is, sou 'n saamgestelde opbrengs van 18,6% per jaar gelewer het, en die belegging sou gegroei het na R15,3 miljoen. Teen die huidige groeikoers sal jy, indien jy wil aftree met R30 000 per maand, sowat R7 miljoen moet belê.
Die aangewese ding is dus om jou verwagtinge, wat langlewendheid betref, goed te bestuur en ten alle tye genoeg te spaar vir jou aftrede. Mense moet staatmaak op goed deurdagte strategieë wat nie gegrond is op emosies nie, maar op gesonde oordeel. Met goed presterende en oordeelkundige portefeuljebestuur, behoort jou aftrede meer rooskleurig te lyk.
.jpg)
By PSG Konsult Pretoria se byeenkoms by Hyatt Regency Oubaai verlede week Woensdag is van links: Gideon en Timmy Greyvenstein, Chris Wehmeyer van PSG Konsult, en Koos en Riètta de Wet. Foto: Pauline Lourens
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'