Gallery Update
GEORGE NUUS - Sy veg vir haar lewe. Só sê Lorinda Olyn (21) se pa, Gerrie Olyn, ná sy Dinsdagmiddag in 'n kritieke toestand in die George-hospitaal opgeneem is.
Lorinda en haar ma, Belda (40), het vanuit die middedorp gekom en was op pad huis toe toe 'n Translux-bus hul motor in Knysnaweg by die verkeerslig na Le Vallia getref het.
Die bus het die motor, 'n VW Citi Golf, aan die passasierskant, waar Lorinda gesit het, getref.
Belda het slegs geringe beserings opgedoen en was kort ná die ongeluk weer by die huis. Lorinda moes egter met meganiese kake uit die wrak gehaal word. Sy is met ernstige kopbeserings deur Eden911-paramedici na die hospitaal geneem.
Teen Woensdagoggend was Lorinda nog in 'n geïnduseerde koma in die hoësorgeenheid. Volgens haar pa het sy 'n ernstige skedelbreuk opgedoen en was daar nog bloeding op haar brein.
"Ons sal vanmiddag kan sien hoe dit gaan.
"Die presiese omvang van haar beserings sal vasgestel kan word sodra die swelling op haar brein gesak het," het hy gister aan die George Herald gesê.
Niemand in die bus is beseer nie.
Die ongelukstoneel Dinsdagmiddag ná 'n Translux-bus 'n VW Citi Golf aan die passasierskant getref het.
Lees 'n vorige artikel: Vrou in ongeluk beseer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'