GEORGE NUUS - Dit gons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens verlede Donderdag, 22 April, se stadsraadsvergadering.
In die item is onder meer voorgestel dat Flip de Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee word. Hy dien al meer as drie jaar in die komitee en is onlangs aangestel vir nog 'n termyn.
In die item is ook voorgestel dat Christo Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien. Die raad moes toe 'n besluit oor die voorstelle neem, maar kon dit nie doen nie omdat dit teruggetrek is. Blykbaar is geen redes verstrek nie.
In George se politieke kringe is die afgelope paar dae gevra of daar nie moontlike politieke inmenging was nie.
Die voorsitterspos word aan die einde van die maand vakant omdat die dienende voorsitter, dr. Adele Potgieter, se termyn verstryk.
Dis 'n statutêre komitee wat ingevolge wetgewing funksioneer en volgens streng riglyne onafhanklik en onpartydig moet optree. Tydens elke vergadering moet lede ook hul belange verklaar.
Flip de Swardt Foto: Michelle Pienaar
Dit moet onder meer toesien dat die finansiële state van die munisipaliteit die werklike stand van sake weerspieël. Voorts dat die doelwitte waarvoor begroot is binne die finansiële jaar afgehandel word. Die komitee moet ook enige risiko's waaraan die munisipaliteit blootgestel is, aan die stadsraad rapporteer en toesien dat alle wette nagekom word.
Na verneem word het die onttrekking blykbaar van die raadslede onkant betrap aangesien daar vanuit die DA-banke en die opposisie steun was vir De Swardt se kandidatuur. Volgens inligting bekom is 'n veelparty ad hoc komitee 'n tydjie gelede aangestel om 'n aanbeveling te maak oor onder meer 'n nuwe voorsitter. Die DA het drie lede in die komitee gehad, en die ANC en ACDP elk een. Daar is vergader en blykbaar het die komitee toe uiteindelik aanbeveel dat De Swardt die kandidaat moet wees.
Die komitee speel 'n belangrike oorsigrol oor die funksionering van politieke ampsdraers en munisipale amptenare.
Leon van Wyk het vandeesweek by navraag bevestig dat die item onttrek is.
Op die vraag oor die voorsitterskap het Van Wyk geantwoord dat die komitee ook met homself as burgemeester, die munisipale bestuurder, dr. Michelle Gratz en die voorsitter van die munisipale publieke rekeninge komitee (MPRK), Johan du Toit, moes gekonsulteer het. Dit het egter nie gebeur nie.
"Dit gaan nie oor 'n individu nie. Dit gaan oor oorlegpleging en oor die belyning wat ons wil bereik." Op die vraag wanneer daar duidelikheid oor 'n nuwe voorsitter kan wees, het Van Wyk geantwoord dat die plan is om 'n item binne die volgende maand na die raad te bring. De Swardt wou by navraag geen kommentaar lewer nie.
Christo Lamprecht en dr. Adele Potgieter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'