Update
GEORGE NUUS - Die twee vonnisafwagtende moorde-naars, Ruwaden Bruiners (27) en Johnick Kleinbooi (21) het Maandagoggend, 21 Augustus, vlugtig in die rondgaande hooggeregshof in George verskyn.
Vonnisverrigtinge sou Maandag begin het ná regter Derek Wille albei op Vrydag 26 Mei skuldig bevind het aan roof met verswarende omstandighede sowel as die verkragting en moord van die 25-jarige Chané Manuel.
Die saak moes egter tot 7 en 8 September uitgestel word omdat van die voorvonnisverslae nog nie gereed was nie.
Manuel, 'n vrou wat op die strate van George gewoon het, se liggaam is op 17 September 2020 langs 'n treinspoor agter Buco in Nelson Mandela-rylaan, gevind.
Haar hande was met 'n dun tou agter haar rug vasgemaak, 'n kous was diep in haar keel afgedruk en haar mond was met nog 'n dun tou gesnoer. Haar broek was tot op haar knieë afgetrek.
Die polisie het omstreeks 02:30 daardie oggend op haar liggaam afgekom ná twee mans, wat hulle tydens 'n stop-en-soek-operasie deursoek het, hulle daarvan vertel het.
Albei word aangekla van roof, verkragting en moord, en is sedert hul inhegtenisname in aanhouding.
Senior advokaat Lenro Badenhorst is vir die staat. Kleinbooi word deur advokaat Michael Sebueng van Legal Aid SA verteenwoordig en advokaat Flip Theron verteenwoordig Bruiners.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’