Update
GEORGE NUUS - Hulle het haar verkrag, beroof en daarna vermoor sodat sy niemand daarvan kon vertel nie.
Dít is die slotsom wat bereik is tydens die uitspraak van twee moordverdagtes, Ruwaden Bruiners (27) en sy mede-beskuldigde, Johnick Kleinbooi (21) in die rondgaande hooggeregshof in George op Dinsdag 23 Mei.
Vonnisverrigtinge begin op Maandag 21 Augustus.
Hoewel Kleinbooi in sy getuienis gesê het dat hy slegs deel was van die voorval omdat hy bang was vir Bruiners, en dus Bruiners se opdragte uitgevoer het, het regter Derek Wille albei skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede sowel as die verkragting en moord van die 25-jarige Chané Manuel.
Manuel, 'n vrou wat op die strate van George gewoon het, se liggaam is op 17 September 2020 langs 'n treinspoor agter Buco in Nelson Mandela-rylaan, gevind.
Haar hande was met 'n dun tou agter haar rug vasgemaak, 'n kous was diep in haar keel afgedruk en haar mond was met nog 'n dun tou gesnoer. Haar broek was tot op haar knieë afgetrek.
Die polisie het omstreeks 02:30 daardie oggend op haar liggaam afgekom ná twee mans, wat hulle tydens 'n stop-en-soek-operasie deursoek het, hulle daarvan vertel het.
Dwelms
Die oorledene en die verdagtes het vroeër daardie dag by 'n verlate huis in Cathedralstraat tik en Mandrax gerook.
Volgens die beskuldigdes het hulle haar nie weer daarna gesien totdat hulle haar later die nag, op pad huis toe, op die Albertstraatbrug raakgeloop het nie. Volgens getuienis het Bruiners vir Manuel geken, maar hy het dit tydens die verhoor ontken.
Bruiners het aan die hof vertel dat hulle op haar aanvraag saam met Manuel langs die treinspoor gestap het. Hulle het haar daarna probeer beroof, maar het geen kennis gedra van die moord en verkragting tot die volgende oggend toe albei in Thembalethu in hegtenis geneem is.
Kleinbooi het in sy getuienis gesê dit was Bruiners se idee om agter Manuel aan te stap.
Volgens hom het hy geen kennis gedra van wat Bruiners beplan het nie. Hy het wel erken dat hy 'n medepligtige was en haar hande agter haar rug vasgebind het. Volgens hom was hy in geen sameswering met Bruiners betrokke nie en hy wou van meet af aan huis toe gaan. Ongelukkig vir hom, het hy nie.
Hy het gesê, hy het Bruiners se instruksies gevolg omdat hy vir hom bang was.
Bruiners het ook gesê dat hulle haar nie verkrag het nie en geen intensie gehad het om haar te vermoor nie. Hy het gesê hy het haar slegs gewurg sodat sy nie moes skree nie. Hy het tydens sy getuienis in die hof gesê dat Manuel moontlik na die tyd deur 'n verbyganger verkrag en vermoor is. Volgens hom het hulle van die toneel weggehardloop ná sy flou geword het.
Dood na verkragting
Wille het in sy uitspraak gesê die nadoodse ondersoek het bewys dat Manuel gesterf het ná sy verkrag is. Dit maak dus Bruiners se getuienis, dat die oorledene deur iemand anders verkrag en vermoor was, baie onwaarskynlik.
In sy uitspraak het Wille gesê dat Kleinbooi getuig het dat die oorledene deur Bruiners verkrag is en dat hy [Kleinbooi] 'n medepligtige was.
"Beskuldigde nommer twee [Kleinbooi] het nie probeer om homself te distansieer nie en het toegegee dat hy ook die oorledene verwurg het en beskuldigde nommer een [Bruiners] bygestaan het om die oorledene te oorrompel deur haar vas te bind.
"Sy getuienis dat die oorledene weerstand gebied het en terugbaklei het, is meer waarskynlik en verskaf 'n verduideliking vir haar twaalf ander beserings," het Wille tydens uitspraak gesê.
Onwrikbare getuienis
In sy uitspraak het Wille gesê Kleinbooi was onwrikbaar in sy getuienis oor Bruiners se betrokkenheid by Manuel se verkragting. Hy het ook gesê Kleinbooi het berou getoon en met die polisie-ondersoek saamgewerk.
"Daarenteen was beskuldigde nommer een hoogs ontwykend in sy getuienis en het nie 'n goeie indruk op die hof gemaak nie."
Hy het ook gesê dat dit hoogs onwaarskynlik was dat nog 'n onbekende persoon, tydens inperking, binne 'n kort tydperk vandat die oorledene bewussyn verloor het, en kort daarna sou sterf, die oorledene sou vind en haar verkrag het.
Verkrag toe vermoor
Volgens die getuienis van die patoloog, dat die oorledene verkrag was voor sy oorlede is, beteken dat Kleinbooi die verkragting van die oorledene aanskou het en dit nie probeer stop het of weggeloop het nie.
Volgens Wille was die getuienis deur Kleinbooi voldoende om, bo redelike twyfel, tot die gevolgtrekking te kom dat Bruiners die oorledene verkrag het.
Moord
Op die klag van moord het Wille gesê dat dit hoogs onwaarskynlik was dat dit vir die beskuldigde nodig was om die oorledene te verwurg tot sy bewusteloos was om haar te beroof.
"Hulle was op 'n afgeleë plek waar dit nie moeilik sou wees om die oorledene te oorrompel en te beroof nie. In stede daarvan het hulle besluit om haar te beroof en te verkrag en daarná te vermoor sodat sy dit nie by die polisie kon aanmeld nie," het Wille tydens uitspraak gesê.
Senior advokaat Lenro Badenhorst is vir die staat. Kleinbooi word deur advokaat Michael Sebueng van Legal Aid SA verteenwoordig en advokaat Flip Theron verteenwoordig Bruiners.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’