Hulle doen dit nie vir eie gewin nie, maar om die Kankervereniging se fondse te styf en elkeen mik om ten minste R10 000 in te samel.
Die deelnemers se beloning is 'n glansvolle gala-aand op 24 November waar die gewilde akteur, Nico Panagio as seremoniemeester optree en waar die beste woekeraar gekroon word. Sy loop weg met die titel, Kansa Vonkelvrou van die Jaar.
Helen Thomas, Suid-Kaapse gemeenskapsmobiliseerder vir Kansa en die groot dryfveer agter die projek, sê dit is vir hulle 'n riem onder die hart dat hierdie klomp besige vroue hulleself nóg soveel werk op die hals haal ten bate van die vereniging.
Maar, verklaar een van die kandidate, Sonet Calitz: "Die lewe is goed vir ons en ons moet teruggee."
Sonet hou vanjaar 'n vrouefunksie waar 'n verhoudingskonsultant gaan optree. "Dis so 'n regte lekker girls' night," sê sy.
Milly Botha hou 'n hoenderbraai op 9 November by die Kankervereniging se kantoor en Sonnika Visser bied 'n vonkelwynontbyt aan by Town Lodge George met Jane Simon as gasspreker.
Sonnika het ook 'n kontantbedrag van die Jubilee-nasorgskool waar haar seuntjie skoolgaan, ontvang. Hulle het 'n snoepie gehou om die geld in te samel.
Nog 'n kandidaat, Ansie Swart, verkoop kolwyntjies wat sy saans bak ná 'n voldag op kantoor. Sy het ook al honderde pannekoeke gebak en verkoop. "Ons neem deel uit dankbaarheid vir wat ons het en wil ander in nood help. Dit is ook 'n manier om 'n mens se eie seer te verwerk," sê Ansie, wat al familie weens kanker verloor het.
Niemand rep 'n woord oor hoeveel rande hulle al in die sak het nie. Dit bly 'n geheim tot die groot aankondiging by die gala-aand.
Spelers van die SWD Arende gaan ekstra opwinding aan die geleentheid verleen en elke vonkelvrou-kandidaat gaan op die verhoog vergesel word deur 'n rugbyspeler.
Die deelnemers gaan die aand op hulle heel beste lyk in ontwerpersuitrustings wat die plaaslike ontwerper, Jeanine Barnard borg. Sy het twee jaar gelede die Mej. Tuinroete Klein-Karoo-kompetisie se wenontwerp geskep.
Prerogatives gaan musiek maak en daar sal 'n kontantkroeg beskikbaar wees. Bel Kansa se kantoor by 044 874 4824 vir kaartjies.

Die vonkelvrou-kandidate se monde is gesnoer oor hoeveel geld elkeen al in die sak het. Van links voor: Helen Thomas (dryfveer agter die projek), Noreen Appollis, Beroline Barlows en ontwerper Jeanne Barnard wat die finaliste se rokke borg; middel: Muriel Munro, Ansie Swart, Sharon Raubenheimer, Pamela Daniëls, Leigh-Anne de Wet, Sonnika Visser en Cynthia Abrahams; agter: Milly Botha, Sonet Caliz, Meri-Lene Simeon en Sophie Fortuin. Afwesig: Juandri van Wyk en Hester du Preez. Foto: Alida de Beer