Daar heers tans groot verwarring onder ouers en leerders oor presies wanneer die skole weer begin.
Meer as twee-derdes van die skole in die Wes-Kaap begin Maandag, 17 Januarie, het mnr. Paddy Attwell, woordvoerder van die onderwysdepartement, vandeesweek gesê.
Die WKOD het verlede jaar besluit om skole die geleentheid te gee om die twee langnaweke einde April en begin Mei saam te voeg deur hulle die opsie te gee om twee dae vroeër weg te spring met die 2011-skooljaar.
Dié skole mag in April, op die 28ste en 29ste, twee ekstra vakansiedae kry.
Slegs skole wat hiervoor aansoek gedoen het by hul distrikskantore, begin Maandag. Skole wat nie aansoek gedoen het nie, sal eers Woensdag, 19 Januarie met hul skooljaar begin.
Attwell het bevestig dat al die skole in George en Knysna, behalwe privaat skole wat reeds dié week aangemeld het, Maandag begin.
"Vorige ervaring het gewys dat daar waarskynlik groot getalle leerders op Donderdag 28 April en Vrydag 29 April afwesig sal wees. Om maksimum onderrigtyd te benut, sal dit vir skole en leerders meer voordelig wees as dié dae op ’n ander stadium ingehaal word," het Attwell gesê.
Die ekstra twee vakansiedae beteken dat die langnaweek reeds op 22 April (Goeie Vrydag) begin. Op Maandag 25 April is dit Gesinsdag, Dinsdag 26 April is ’n vakansiedag volgens die nasionale onderwysdepartement se skoolkalender en Woensdag 27 April word Vryheidsdag gevier. Werkersdag val op Sondag 1 Mei, wat beteken Maandag 2 Mei sal ook ’n publieke vakansiedag wees.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA