Een so 'n geval is die geboutjie oorkant Yorkers Superette in Yorkstraat, een van ons hoofstrate en dus in volle sig van wie ookal ons dorp besoek. Dit was 'n jaar of wat gelede die kantore van 'n plaaslike eiendomsagentskap, maar nadat hulle uitgetrek het, loop die geboutjie erg onder vandale deur. Vensters, deure, vaste toebehore en plafonne is uitgebreek en die plek is met graffiti ontsier. Bosslapers het ook hul intrek geneem.
'n Onhoudbare stank hang binne-in die huisie en gemors lê binne en buite gestrooi. Die superette is hoogs ontevrede oor die negatiewe effek wat dit op hul besigheid het.
Proses gevolg
Wanneer 'n gebou toegelaat word om so te verval, het die munisipaliteit 'n spesifieke proses wat gevolg word, sê Steven Erasmus, hoof van beplanning en ontwikkeling.
Kennisgewings word eers op die eienaar gedien in terme van die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde om die gebouestruktuur op te knap tot 'n bewoonbare toestand en wat in voorkoms ook nie afbreuk doen aan die karakter van die omliggende omgewing nie.
"Indien die eienaar nie hier aangehoor gee nie, word die aangeleentheid verwys vir regsoptrede. Indien die gebou egter tot so 'n mate verval dat dit ekonomies nie meer haalbaar is om opgeknap te word nie, of indien die gebou 'n veiligheidsrisiko inhou, kan die munisipaliteit ook gelas dat die eienaar die gebou sloop. In gevalle waar die eienaar nie hieraan gehoor gee nie, kan die munisipaliteit ook die gebou laat sloop.
"Wanneer 'n gebou egter oor erfeniswaarde beskik moet die nodige toestemming vir sloping vanaf die Erfenisraad verkry word. Waar 'n eienaar wel begerig is om 'n gebou te sloop vir herontwikkeling maar nie die nodige Erfenisraad-toestemming kan verkry vir sloping nie, word daar dikwels gevind dat die eienaar met opset geen verdere onderhoud op die gebou doen nie en ook sal toelaat dat die gebou geplunder word.
"In 'n poging om uiteindelik die nodige goedkeuring vir sloping te verkry, laat sommige eienaars toe dat die gebou gaandeweg in 'n onooglike en onveilige toestand verval," sê Erasmus.
Finale kennisgewing
"Die munisipaliteit het al by verskeie geleenthede gehandel met die Yorkstraat 16-geval. Sover is drie kennisgewings sedert Februarie 2010 gedien om die gebou te herstel en die perseel op te ruim. Eden-distriksmunisipaliteit en Wes-Kaap Erfenis het ook korrespondensie aan die eienaar gestuur."
Volgens Erasmus het die eienaar self ook verskeie pogings aangewend om die perseel op te ruim en die graffiti te verwyder, maar hy het nie die toestand van die gebou verbeter nie. 'n Finale kennisgewing is reeds op hom gedien, maar hy het uitstel gevra weens sy voorneme om die gebou te verkoop.
"Daar was egter geen vordering tot op hede nie en die aangeleentheid word tans verwys vir regsoptrede," het Erasmus gesê.
Stiaan Carstens, adjunkdirekteur van beplanning, het by navraag gesê sy afdeling kan onder die omstandighede nie die kontaknommers van die eienaar van die eiendom verskaf nie. Die George Herald kon die eienaar nie voor saktyd opspoor nie.

Die eens pragtige geboutjie oorkant die Yorkers Superette in Yorkstraat word toegelaat om heeltemal te verval.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS