Update
GEORGE NUUS - Een van die vermiste persone wat die afgelope paar weke in George by die polisie as vermis aangemeld is, is ongedeerd en veilig terug by die huis. Kayla Solomons (22) wat op 19 April as vermis aangemeld is, is Donderdag 26 April ongedeerd in Lawaaikamp gevind.
Solomons is Dinsdag 17 April per ambulans na die George-hospitaal geneem, maar toe haar gesin haar die volgende dag wou besoek was sy nêrens te vind nie.
Volgens die woordvoerder van gesondheid in Eden, Nadia Ferreira, is Solomons daardie betrokke dag nie by die hospitaal opgeneem nie.
'n Familievriend van Solomons het aan die George Herald gesê dat sy wel by die hospitaal aangekom het, maar dat sy na bewering nie baie lank wou wag om 'n dokter te sien nie.
Sy is daarna saam met 'n vriend weg en het eers in Donderdag se George Herald gesien dat sy as vermis aangemeld is. Sy het nie 'n selfoon of geld vir 'n taxi by haar gehad nie en was te bang om na Hoekwil te ryloop.
Ander vermistes
Zhandre Koopman
Koopman (19) is Dinsdag 1 Mei laas gesien by haar ouerhuis in Proteastraat in Kleinkrantz.
Enigeen met inligting oor waar sy is, kan die George-polisiekantoor skakel by 044 80 34744 / 044 803 4733.
Marie Ostbo
Die Noorweegse student, Marie Ostbo (21), word steeds vermis. Ostbo het op Dinsdag 17 April op Myoli-strand verdwyn terwyl sy saam met 'n buitelandse studente-toergroep in Sedgefield vertoef het. Sy het volgens die polisie omstreeks 18:00 op die strand gaan stap. Slegs haar selfoon, hoed en skoene is op die strand gevind.
Marie se pa, Atle Ostbo, het met die Noorweegse publikasie, Dagbladet, gepraat en gesê hy is hoopvol dat sy dogter gevind sal word, hoewel hy vrees dat sy moontlik aangeval is.
"Ek dink sy is aangeval omdat sy nooit haar besittings op die strand sou los en met haar nuwe kamera sou gaan swem nie," het hy gesê.
Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is daar geen verdere ontwikkelings rondom haar verdwyning nie.
Stoffel Claassen
Die geestelik gestremde Stoffel Claassen (24) van Rosemoor word sedert Dinsdag 27 Maart vermis. Hy is die laaste keer gesien toe hy saam met sy oom, Flip Claassen, gaan water haal het.
Stoffel het 'n rooi T-hemp, grys en oranje kortbroek, 'n swart pet en sandale aangehad. Enigiemand wat hom dalk gesien het, of weet waar hy is, word gevra om Conville-polisiestasie by 044 803 3300 te skakel.
Chevon Desmonique Adams
Die polisie is steeds op soek na Chevon Desmonique Adams (24) van Tarentaalstraat in Pacaltsdorp. Sy was Saterdag 7 April by die Rio-taverne in Liwanistraat in Thembalethu. Adams is laas gesien saam met 'n onbekende man in 'n maroen Isuzu-bakkie met 'n CBS-registrasienommer.
Sy het blou 'n denim, 'n grys T-hemp en 'n grys top aangehad ten tye van haar verdwyning. Enigeen met inligting kan adjudant-offisier Franklin Goliath by die Thembalethu-speurders by 044 802 8934 of 071 689 8370 skakel.
Lees vorige artikels:
- Denneoord-man word vermis
- Verskeie soektogte na vermistes lewer steeds niks
- Missing woman: Family appeals for help
- Touwsranten woman missing
- Help asked to find missing girl
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'