Update
UNIONDALE NUUS - Gemeenskap- en kerkleiers van Uniondale vergader vanoggend met die plaaslike raadslid Jacques Essau, om die jongste situasie op die dorp te bespreek.
Die George Herald het ook betroubaar verneem dat Melvin Naik, George se burgemeester, moontlik later vandag die gebied kan besoek.
Essau het kort gelede aan die George Herald gesê die gemeenskap wil met George-burgemeester, Melvin Naik, praat. Hulle is moeg om aan die agterspeen te suig.
Volgens hom is die gemeenskap ongelukkig oor swak dienslewering en hulle het besluit genoeg is genoeg.
Die jongste onrus het 'n lang aanloop en die vonk in die kruitvat was 'n voorval die afgelope Sondag toe een persoon in 'n informele nedersetting in 'n brand gesterf het.
Uniondale was tot voor 2011 deel van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit. Tot in daardie stadium het Uniondale 'n volledige brandweerstasie gehad.
Toe Uniondale in 2011 deel van die George-munisipaliteit geword het, is dit afgeskaal na 'n satelliet-brandweerstasie wat op die oomblik deur net drie persone beman word. Dit vir 'n baie groot gebied.
Die gemeenskap het besluit genoeg is genoeg en by hom aangedring dat hy vir Maandag 'n vergadering met Naik reël.
Volgens hom was die gort Maandag gaar toe Naik nie opgedaag het nie.
"Die gemeenskap eis dat hy hulle te woord staan."
Kapt. Malcolm Potjie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die N9 is oop vir verkeer.
Volgens hom is die situasie steeds plofbaar en die polisie hou dit dop. Pogings word aangewend om die situasie te normaliseer.
Lees 'n vorige artikel | Update: Uniondale protest update
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'