Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die NG kerk Blanco tel die dae af na komende Sondag 16 Mei wanneer die gemeente hulle 70ste verjaarsdag vier.
"Selfs ons vyf nuwe kerkuiltjies is besig om vere reg te skud vir ons vieringe en feesdiens komende Sondag. Dit gaan plaasvind in die kuierarea en onder die uile se boom," sê ds. Francois Mulder, 'n leraar van die gemeente.
Een van die liedere wat gesing gaan word, is 'n paar jaar gelede deur Mulder en Reinier Schuin geskryf. Die lied, Bron van hoop, is vir dié spesiale geleentheid heropgeneem en die lirieke uitgebrei.
Drini Botha, bekende plaaslike pianis, en Theo Mulder het met dié proses gehelp.
Volgens die gemeente se geskiedenisargief (www.gemeentegeskiedenis.co.za), het Blanco-gemeente ontstaan ná afstigting van die Moedergemeente George op 16 Mei 1951. Tot op daardie stadium het leraars van die Moedergemeente gereelde eredienste in 'n klein, onvoldoende kerksaaltjie in Blanco gehou.
Die nuwe generasie kerkuiltjies in die uileboks in 'n boom op die Blanco-gemeente se kerkterrein. Hulle het nou name gekry: Moony, Gwaihir, Galadriel, Flower en Archimedes.
'n Paar maande ná afstigting, op 4 Augustus, is ds. GA Botha as die eerste leraar bevestig en in dieselfde jaar nog is 'n nuut geboude kerksaal, op 15 Desember, amptelik ingewy. Die pastorie word in die daaropvolgende jaar voltooi.
Ds. Botha het reeds in 1954 'n kerk-boufonds gestig wat die gemeente uiteindelik in die sewentigs in staat gestel het om grond aan te koop en die kerkgebou op te rig. Dit is in November 1975 ingewy.
Martin Weideman was die bouer en die argitekte Smit en Fraser het dit ontwerp.
Die proses om die glasveseltoring bo-op die uitgeboude deel van die kerktoring bo die klok te monteer, was 'n uitdaging en stellasies en 'n katrolstelsel is gebruik om die glasveselgedeelte op te hys en te monteer.
Die kerkuiltjies is 'n tweede generasie afkomstig van 'n broeipaar wat die kerkterrein hulle tuiste gemaak het. 'n Uileboks is verlede jaar in 'n boom gemonteer vir die eerste generasie kuikens wat in die kerktoring uitgebroei is. Hulle is na die uileboks oorgedra en het die nes daarvandaan verlaat.
Diederik Kriel klim die leer om te kyk na die vordering van die uiltjies.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'