GEORGE NUUS - Op die Good-front is dinge aan die beweeg. Voormalige Good-raadslid Donovan Saptoe het weer, na sy onlangse bedanking as proporsionele raadslid, sy steun aan dié party gegee. Saptoe is verlede week deur die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, terug verwelkom.
Saptoe het by navraag gesê hy het net bedank as 'n raadslid en nie as 'n lid van Good nie.
"My gesprekke met Good en hul toewyding aan ons gemeenskap het my weereens laat kop krap," het Saptoe gesê.
"So ons het ooreengekom oor die pad vorentoe. Ek is baie bly dat die Good-leierskap soveel geduld uitgeoefen het en bereid was om ons gemeenskap in ag te neem, veral gegewe die feit dat ek Good onkant gevang het met my bedanking."
Herron het gesê die party is baie bly om hom terug te hê om 'n leidende rol in die 2024-verkiesingsveldtog te speel, veral in die Tuinroete-distrik. "Hy is 'n ware gemeenskapsleier."
Dispuut oor tussenverkiesing
Intussen het Good se prokureur 'n skrywe aan die Onafhanklike Verkiesings Kommissie en George-munisipaliteit gerig rakende die afkondiging van 'n tussen-verkiesing vir wyk 27. Die voormalige Good-raadslid Richard Hector, het volgens die Good-party nie die regte prosedure gevolg tydens sy bedanking nie, wat die bedanking ongeldig maak.
Herron het gesê die bedanking moes aan die munisipale bestuurder gerig wees, maar dit is in stede by 'n politikus, die speaker van die raad,ingedien. Good is bereid om die howe te nader vir hulp indien hulle versoek om die tussenverkiesing vir hierdie wyk te hersien nie gunstig oorweeg sal word nie.
Die ander twee tussenverkiesings sal in wyk 16 en wyk 20 plaasvind. Dit volg na die bedanking van Good-raadslede Theresa Jeyi en Neville Louw.
Volgens Hector het hy nooit deelgeneem aan latere samesprekings met die DA-leier Helen Zille tydens haar onlangse besoek nie.
"Theresa en Neville het die saak [hul bedanking] verder geneem en hulle het wel amptelik bedank as raadslede. Ek het egter van besluit verander. Ek het dinge met die party opgeklaar en is weer ten volle aan boord," het Hector gesê.
Op 'n vraag oor die foto waar hy saam met Jeyi en Louw op 'n foto poseer met blou DA T-hemde, het Hector gesê dit was voortydig. "Ek was nog nooit 'n DA-lid nie. Ek was gefrustreerd, soos die ander twee, met my party. Ons het dinge uitgesorteer."
Herron het gesê die Good-party verstaan ten volle die probleme wat raadslede, wat werkersklasgemeenskappe in DA-beheerde munisipaliteite verteenwoordig, in die gesig staar wanneer hulle moet verduidelik waarom hul gemeenskappe nie die nodige aandag kry nie.
Richard Hector reken sy stoel in die raad is steeds syne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’