GEORGE NUUS - Die Van Rensburg-familie van George sê hulle is totaal en al op vir die sypaadjieslapers wat op hul privaatheid inbreuk maak en hul kinders onveilig laat voel.
Louise van Rensburg sê die haweloses maak hulself tuis op die sypaadjie in Morrislaan langs die polisiestasie. "Ek het al oral raad gesoek en almal gebel. Dit help net vir 'n kort rukkie dan is hulle weer terug."
Sy het weer Sondagaand die polisie gebel om hulle te verwyder. Teen Maandagaand het die klomp nog nie weer gesig gewys nie. Sy kla ook dat hulle laataand kliphard gesels en van die hoek by haar agterhek 'n toilet maak. "My kinders wil nie meer in die tuin speel nie as gevolg van die reuk wat daar hang. Hulle wil ook nie alleen in hul kamer slaap nie. Dis 'n lekker stil straat in die aand en ek betaal baie huur."
André Olivier van Cremhog sê haweloses wat langs die polisiestasie slaap, voel veiliger en het minder las van misdadigers. Die polisie kan gevra word om hulle te verwyder, asook die eenheid teen grondbesetting, maar Olivier vra waarheen moet hulle gaan. Olivier vra reeds lank vir 'n sentrum vir haweloses.
George-munisipale bestuurder, Trevor Botha, sê die hawelose-probleem kom al lank en insae van alle rolspelers is nodig vir 'n oplossing. Botha sê van die munisipaliteit se kant, doen hulle gereeld patrollering en aksie word geneem in die brandpuntareas. "Mense is desperaat vir skuiling en sal altyd terugkeer na 'n plek waar hulle veilig is sodra die wetstoepassers weg is."
Haweloses slaap langs die polisiestasie.
Hy verduidelik die munisipale wetstoepassers se mandaat is beperk tot die munisipale wette, en as inwoners onveilig voel moet hulle liefs die polisie bel om die situasie te hanteer.
Die gemeenskapsontwikkelingsafdeling binne die munisipaliteit werk saam met die polisie om die menigte sosio-ekonomiese kwessies te hanteer.
Volgens Botha is daar programme vir dwelmrehabilitasie, vaardigheidsopleiding, die soek na familielede asook om sulke mense met familie te herenig.
Sien ook die brief oor 'n moontlike skuiling op die brieweblad.
Die Van Rensburg-familie kla die area by hul agterhek word as 'n toilet gebruik en stink so die kinders wil nie meer in die tuin speel nie.
Verwante artikel: hawelose-sentrum: Raad moet besin
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'