GEORGE NUUS - Planne vir die daarstelling van 'n Cremhog-sentrum vir haweloses in George sloer al sedert 2017, maar dit lyk asof die raad eersdaags daaroor sal besin.
André Olivier, die projekbestuurder van Cremhog, 'n organisasie wat hom beywer vir die lot van haweloses, sê so 'n sentrum sal 'n groot verskil maak in die lewens van die sowat 150 tot 200 haweloses in George wat daagliks op straat is.
Die sentrum kan voorsien in hulle daaglikse behoeftes en hulle ook bemagtig. Hy sê baie van die mense kan nie teruggaan na hul families nie. "Die sukses van so 'n sentrum hang af van akkommodasie. En as jy 'n volle pakket met ondersteuning, assesering, vaardigheidsontwikkeling en akkommodasie asook 'n heenkome wanneer hulle klaar is by ons aanbied, dan is jou kans op sukses net soveel hoër."
Volgens Olivier het hulle alles ingehandig wat van hulle verwag is - 'n sakeplan, 'n operasionale plan, asook 'n volhoubaarheidsplan. Daar is ook 'n terreinplan ingedien vir die gebruik van 'n gedeelte van Markstraat oorkant Erven 2674 en 3783. Hulle het reeds sowat R600 000 ingesamel vir die projek.
Hy sê die raad het voorsiening gemaak dat hulle dit in fases oor 'n jaar kan oprig. "Dit sou ons tyd gee om aansoek te doen, te registeer en te kwalifiseer vir 'n subsidie van die departement sosiale ontwikkeling."
Shanold Marillac, Senior Bestuurder: Gemeenskapsontwikkeling van George- munisipaliteit, sê die volhoubaar-heidsbepaling van die projek is afgehandel. "Hierdie taak is afgehandel nadat opgedateerde insette vanaf die genoemde organisasie en die forum vir mense wat op straat leef, verkry is."
Marillac sê die verslag sal by die volgende gemeenskapsont-wikkelingskomitee van die raad dien. "Indien die komitee die verslag goedkeur, moet dit steeds in 'n volle raadsitting dien voor die proses afgehandel kan word."
Maar terwyl die munisipaliteit besluit oor die toekoms van die beoogde sentrum, moes Olivier en die span van Cremhog hulle befondsing vir eers stopsit. Hy verduidelik daar was niks omtrent die vooruitgang van die projek wat hulle aan die publiek of donateurs kon wys nie. Wat hulle nog altyd oor wonder is hoekom die projek sloer - glo raadslede net nie dat dit suksesvol sal wees nie?
"Ons wil hê hulle moet weet ons is 'n gewillige vennoot wat bereid is om hande te vat en saam te werk," sê hy.
Talle inwoners is egter besorg dat so 'n sentrum al hoe meer haweloses na George sal lok.
Cremhog's project to build a centre for the homeless in George has been dragging along since 2017. Project manager André Olivier says they have handed in the application at George Municipality. According to Shanold Marillac of Community Development, the sustainability study has been finalised and the application will be going through the official processes, but no time frame has been set for its finalisation.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'