Gallery
GEORGE NUUS - 'n Groep kinders van Rosedale is tydens die laaste naweek van die skoolvakansie beloon vir hul harde werk met 'n uitstappie na die Red Berry-aarbeiplaas en die Outeniqua-vervoermuseum.
Die sowat 55 kinders was nog nooit op 'n aarbeiplaas nie. Dit was ook hul eerste besoek aan die vervoermuseum.
Hierdie inisiatief deur Cynthia Bruinders, 'n gemeenskapsleier van Rosedale, is daarop gemik om die kinders aan te moedig om in hul skoolwerk te presteer.
Hulle neem almal ekstra wiskundeklasse by Bruinders. Die Wenners Wiskundeprojek word aangebied by die Educational Youth Community Centre in Genesisstraat, vir leerders van gr. R tot gr. 9.
"Meer as 60% van die leerders in die omliggende skole het verlede jaar hulle graad gedruip. Wiskunde is een van die vakke wat die meeste aandag benodig," het Bruinders gesê.
"Met hierdie uitstappies beloon ek hulle vir hul harde werk deur die kwartaal.
"Ek leer hulle ook dissipline en probeer persoonlike higiëne bevorder. Jy trek jou skoolklere uit na skool en knip jou naels. Ek soek geen kinders by game shops in eksamentyd nie.
Drie aarbeie in 'n ry: Van links is Justine Claasen, Matthew Olivier en Anastasia Thompson.
"As jy drie kruisies agter jou naam het gaan jy nie saam op 'n uitstappie nie. Ons slagspreuk is: "Ons is wenners!" Wenners oefen hard, gooi nie tou op nie en lees tot hulle wiskunde verstaan."
Die kinders se ouers betaal 'n fooi van R50 per maand, maar dis eintlik maar die kinders se kosgeld, want hulle kry smiddae 'n gekookte middagete saam met die les.
Borge van die uitstappie sluit in Leonard Taxi's van Parkdene, George-burgemeester Melvin Naik, die bestuur van McDonald's, Red Berry-aarbeiplaas en die Outeniqua-vervoermuseum. Coleen Oliver, een van die ouers, het gesorg vir suiwelhappies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'