Update
GEORGE NUUS - Die probleem met die stompkopkewer in die stedelike gebied het die afgelope jaar vererger. So het prof. Francois Roets van die Universiteit van Stellenbosch, gesê na 'n besoek aan die George/Sedgefield-gebied.
Roets is deel van 'n projek waarby drie universiteite, Pretoria, Stellenbosch en Grahamstad (Rhodes) betrokke is. Hulle kyk na die impak van die stompkopkewer en sy simbiotiese swam.
Die projek het in die eerste helfte van verlede jaar begin. Benewens nagraadse studente van die drie universiteite, is senior akademici en die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) ook betrokke.
Johanna Vermeulen, 'n inwoner van George, het reeds in 2017 gesien daar is fout met bome in die gebied. Sy het onder meer in 2018 Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, gekontak. Du Preez het met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria kontak gemaak.
Prof. Wilhelm de Beer van Fabi het later George self besoek en ook op Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Roets, prof. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria en Fabi en prof. Martin Hill van Rhodes het verlede Vrydag, 6 Maart, as deel van 'n opvolgbesoek onder meer die Tuinroete Botaniese tuin besoek. Hulle het gekyk na die impak in die aanliggende bosse.
Volgens Roets was hulle drie dae in die gebied. Dit is veral in die stedelike gebiede waar die kewer verwoesting aanrig. In die natuurlike gebied is die impak minder, maar dit is stadig besig om erger te word. Dit is meestal akker-, plantaan- en koraalbome in die dorpsgebied wat geraak word. Die bome is besig om te vrek en in die stadium is dit nodig om te keer dat dit verder versprei. Daar moet gekyk word om die bome wat deurtrek is van die kewers, te verwyder.
Du Preez wat ook Vrydag die aanliggende bosse by die Tuinroete Botaniese Tuin besoek het, het saamgestem dat die probleem erger word. "Ons het nog lank nie die einde gesien nie," het hy gesê.
"Kommerwekkend is dat ons al ons Engelse akkerbome kan verloor. Daar is kommer oor die impak op veral sekere inheemse spesies en die landbou."
Volgens Du Preez wil dit voorkom of daar beter samewerking tussen die belanghebbendes is om die probleem op te los. "Dit lyk of die departement van omgewingsake die erns begin besef en hulle het geld bewillig vir toegewyde navorsing."
Dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner van George, het gesê die kewer versprei en die probleem word groter. Daar is dorpe wat dit nog nie het nie, maar dit wel gaan kry.
Hy verwag dat die situasie uiteindelik wel sal stabiliseer. Dit behoort oor tussen 10 tot 15 jaar te gebeur.
Steenkamp verwag ook dat die spesie-samestelling van bome in mense se tuine gaan verander. "Daar gaan minder gasheerspesies wees en meer nie-gasheerspesies."
Hy is betrokke by pogings om besmette bomme met chemiese stowwe te behandel.
The problem of the PSHB (Polyphagous Shot Hole Borer) infestation is getting worst. It is especially in the urban area. Prof Francois Roets of the University of Stellenbosch told the George Herald after a visit to the George/Sedgefield-area that it is especially in the urban area that PSHB is doing damage. He is part of project in which two other universities, Pretora and Rhodes and Fabi (Forestry and Agricultural Biotechnology Institute) are also involved in.
Read previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'