UNIONDALE NUUS - Dinge het vir eers weer na normaal teruggekeer op Uniondale nadat woede en frustrasie vroeër die week in die gewoonlik rustige Karoo-dorp oorgekook het.
Die meeste sakeondernemings se deure was gister (Woensdag) oop en al die paaie soos die N9 en toegangsroetes na en uit die dorp was oop vir verkeer. Die munisipale kantore se deure was ook oop.
Die dorp het vroeg vandeesweek by tye soos 'n oorlogsone gelyk en 'n gespanne atmosfeer het geheers. Die polisie hou steeds die situasie dop en volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is geen verdere voorvalle van geweld sedert Dinsdag in die gebied aangemeld nie.
Gemeenskapsleiers het Woensdag gesê die bal is nou in die George-munisipaliteit se hande en hulle het 48 uur tyd om te reageer op griewe oor die brandweer en sewe dae op diensleweringsgriewe.
'n Brand is in die verte sigbaar.
Onrus het Maandagoggend op die dorp uitgebreek en volgens ingeligtes het dit 'n lang aanloop. Die vonk in die kruitvat was 'n voorval die afgelope Sondag toe een persoon in 'n informele nedersetting in 'n brand gesterf het.
Uniondale was tot voor 2011 deel van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit. Tot in daardie stadium het Uniondale 'n volledige brandweerstasie gehad.
Toe Uniondale in 2011 deel van die George-munisipaliteit geword het, is dit afgeskaal na 'n satelliet-brandweerstasie wat op die oomblik deur net drie persone beman word en dit vir 'n baie groot gebied.
Die gemeenskap het Sondag besluit genoeg is genoeg en het by Jacques Essau, 'n stadsraadslid vir die gebied, aangedring dat hy vir Maandag 'n vergadering met Melvin Naik, George-burgemeester reël.
Toe hy nie opdaag en Charlotte Clarke, die onderburgemeester, in sy plek stuur was die gort gaar.
Naik se verweer was dat hy Maandag 'n buitengewone stadsraadsvergadering moes bywoon.
Hy het toe wel Dinsdag Uniondale besoek en het kort voor 14:00 by die VGK opgedaag. Hy is ingewag deur sowat 500 erg ongelukkige inwoners. Naik, vergesel deur munisipale amptenare en wetstoepassingsbeamptes het ongelukkig gelyk. Tydens die geleentheid is twee memorandums aan hom oorhandig waarin bepaalde eise gestel is.
Uniondale brand. Die brande is duidelik sigbaar tydens die protesoptrede vroeg vandeesweek.
Ds. Steven Anthony van die VGK het as voorsitter van die geleentheid opgetree. Anthony het die Afbakeningskommissie blameer omdat Uniondale in twee wyke van George opgedeel is.
Hy het gesê Uniondale is moeg om aan die agterspeen te suig. Hy het aanwesiges gevra om redelik te wees. Hy het egter benadruk dat as daar nie aandag aan die griewe gegee word nie sal daar weer protesoptrede wees.
Hy gesê George-munisipaliteit moet onthou daar woon mense op Uniondale.
In een van die memorandums word versoek dat meer permanente mense uit die gemeenskap by die brandweer op die dorp aangestel word.
Nadat Naik die memorandums ontvang het, het hy onderneem om aandag aan die aangeleenthede te gee.
Daarna het die skare vreedsaam uiteen gegaan en 'n vergadering is toe agter geslote deure gehou tussen Naik, munisipale amptenare, gemeenskapsleiers, die polisie en verteenwoordigers van die Menseregtekommissie.
Naik het gister (Woensdag) aan die George Herald gesê dit was nie maklik om die situasie te ontlont nie. "Ek verstaan die mense se frustrasie. Die mense se griewe sal aandag kry en die munisipaliteit sal alles moontlik doen om die situasie aan te spreek."
• The Karoo town, Uniondale, returned to normal following protests earlier this week. Most of the businesses' were open yesterday (Wednesday) and all the roads, the N9 and access routes to and from the town, were open to traffic. The doors of the municipal offices were also open. The town looked like a war zone on Monday 15 July and a tense atmosphere prevailed. Police are still monitoring the situation and, according to the Southern Cape police spokesperson, Capt Malcolm Pojie, no incidents of violence have been reported in the area since Tuesday.
Melvin Naik, George-burgemeester luister Dinsdagmiddag, terwyl ds. Steven Anthony van die VGK aanwesiges toespreek. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'