GEORGE NUUS - 'n Pluimbalpaartjie van hier het 'n vindingryke plan uitgedink om hulle te help met reiskostes vir deelname aan die nasionale pluimbaltoernooi in Johannesburg einde Oktober.
MJ Otto en sy meisie, Chrisma Fourie, speel albei vir die Eden-span.
Hulle wil graag hul streek verteenwoordig, maar die geldjies is maar skraps.
George-munisipaliteit het wel 'n donasie van R10 000 gemaak vir die span van agt.
Volgens MJ help dit verseker, maar dit is nie genoeg om al die kostes te dek nie. Die reis- en verblyfkoste is sowat R5 000 per persoon.
Met sy aankoms in George twee jaar gelede het MJ afleweringswerk gedoen, en besef die meeste van die straatnommers wat op die randstene geverf is, is onduidelik of afwesig.
Van hier het die plan ontwikkel om inwoners se straatnommers op te kikker, vir 'n donasie van R50.
"Ons wil graag 'n klein diens vir 'n donasie lewer," het hy verduidelik. "Terselfdertyd doen ons iets goeds vir die dorp."
Chrisma Fourie (links) en MJ Otto vorm 'n gedugte span. Hier doen hulle voorbereidingswerk by 'n huis in Denneoord. Hulle motorligte help om verfwerk na-ure moontlik te maak. Foto: Michelle Pienaar
Na werk, wanneer almal televisie kyk, ry MJ en Chrisma in die strate rond met hul maskeerband, verf en maatband. MJ se Facebook-inskrywing op Georgiete Staan Saam en Crime Spotters George het binne 'n week 50 kliënte gelok.
"Ons het reeds 15 van hierdie klaar gemaak," het hy gesê.
Chrisma speel van kleintyd pluimbal saam met haar ouers en sy het die sport aan MJ voorgestel.
Hy het binne 'n jaar deel van die Eden-span gevorm en hul liefde het vinnig op die pluimbalbaan begin blom.
ARTICLE & PHOTOS: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'