GEORGE NUUS - Hondediefstal en -gevegte is 'n nare realiteit. Nié net elders in die land nie, maar beslis in George ook. Dié stelling deur Salomé Bruyns, hoofinspekteur van die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV), spruit uit 'n onlangse voorval waarin 'n paar maande oue Amerikaanse veghond (pit bull), Hazey, verlede Donderdag 24 Junie, uit 'n erf in Newtonstraat, George-Suid, gesteel is.
Op kringtelevisiebeeldmateriaal kan gesien word hoe twee verdagtes Hazey doodluiters deur 'n palissadehek optel en wegdra. Die voorval het omstreeks 09:20 plaasgevind.
Kort ná die diefstal het Hazey se eienaars plasings op verskeie Facebook- en WhatsApp-groepe gemaak in 'n poging om haar te vind. Die DBV is in kennis gestel en 'n saak is by die plaaslike polisie aangemeld.
George Herald het ook ingespring deur 'n plasing op hul webblad (www.georgeherald.com) en Facebook-blad te plaas en kort voor lank is Hazey gevind.
Volgens die eienaar se suster, Natalie Wilson, het 'n man, Adam Plaatjies van Groeneweidepark, die hondjie by twee mans gekoop wat haar langs die straat probeer verkwansel het.
"Hy het die berig op George Herald se Facebook-blad gesien en my gebel om te sê dat Hazey veilig by hom is en dat ons haar kan afhaal. Hy was so gaaf dat hy haar selfs 'n bad en kos gegee het. Ons is hom ewig dankbaar," sê Wilson.
Hazey is nou veilig tuis en beweeg nie onder haar eienaar se oë uit nie.
"Sy is nog maar skrikkerig en onseker, maar sy doen baie goed," sê Wilson.
Gevolge van hondediefstal
Baie honde wat gesteel word is egter nie so gelukkig soos Hazey nie en dit is die eienaar se verantwoordelikheid om hulle te alle tye veilig te hou.
Volgens Bruyns is hondediefstal besig om toe te neem in George en word veral kragrasse gesteel en dan óf vir gevegte gebruik, om mee te teel óf hulle word verkoop.
Wenke om jou honde veilig te hou
- Kragrasse soos Amerikaanse veghonde (pit bulls), Staffordshire terriers, boelterriers, en boerboelle is groot teikens, veral wanneer hulle nog klein is. Dié honde moet verkieslik nie sonder toesig gelaat word nie. "Ons sien gereeld dat hondjies wat uitgestuur word om vinnig 'n draai te loop, binne 'n oogwink gesteel word," sê Bruyns.
- Neem gereeld foto's van jou hond(e).
- 'n Mikroskyfie wat deur 'n veearts in jou hond ingeplant word, is baie handig om eienaarskap te bewys.
- Steriliseer jou honde. Dit verminder die kans dat verál 'n reun, gesteel sal word.
- Indien jou hond gesteel word, maak so gou moontlik 'n saak by die polisie.
- Kontak die DBV met die besonderhede.
- Indien moontlik versper die sig na die binnekant van jou erf.
- Indien jy met jou hond gaan stap, maak seker niemand agtervolg jou om te sien waar jy bly nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'