GEORGE NUUS - Sonja Strauss van George sal deur menige manne met petrol in hul bloed beny word nadat sy die eienaar van 'n opgeboude Nissan S14 "Rocket Bunny" geword het.
Die prys van die brulmonster is bykans 'n halfmiljoen rand (R445 000) . Sy was oorweldig om te hoor van die groot meevaller, maar het besluit om die motor te verkoop omdat sy nie een van die wroem-wroem brigade is nie.
Die Nissan S14 het 'n spesiale versnellingpakket - die Rocket Bunny - asook 'n vyfspoedratkas gekoppel aan 'n V8-enjin.
Die motor het ook spesiale ingevoerde vellings en rolbeskerming, asook vierpunt-renharnasse. Sonja, 'n werknemer by die George-gevangenis, het aan 'n landwye kompetisie van Shoprite Checkers deelgeneem en haar naam was eerste uit die hoed nadat sy twee velsorgprodukte gekoop het.
Die motor is verlede week spesiaal uit Kaapstad in George vir haar afgelewer.
Dat sy besluit het om die motor te verkoop is logies, maar dink net aan al die rubbermerke wat sy in die parkeerterrein sou kon los!
Myne! Sonja Strauss het die motor verlede week in George ontvang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'