GEORGE NUUS - Plaaslike skole is genader oor hoe hulle by bly met skoolwerk of selfstudie tuis, en baie het reeds voor die skool gesluit het planne gemaak. Daar is WhatsApp-groepe gestig, notas is gedruk en oorhandig en daar is verskeie e-platforms bekendgemaak waar leerders materiaal kan kry.
Sas du Plessis die hoof van Laerskool George-Suid, sê die nodige werk- en handboeke is huis toe gestuur om ouers en kinders te help met huiswerk gedurende die grendeltyd.
"Die skoolbestuurspan in samewerking met die skool se beheerliggaam was voorbereid sover moontlik vir die onbekende. Strukture vir kommunikasie tussen onderwysers, ouers en kinders is opgestel met WhatsApp-groepe vir direkte kommunikasie van inligting soos die situasie ontvou."
Hy sê sover is ongeveer 850 gesinne geregistreer op die D6-toep en die skool gebruik hierdie middel om beplande werk aan kinders en ouers deur te gee.
"Daar word vir 'n week vooruit beplan en op die voorafgaande Donderdag of Vrydag aan ouers deurgegee. Dit geskied per graad, per vak. Die werk word gekies volgens die kernbeginsels van die CAPS-dokument. Die ouers het reeds week een se werk ontvang met week twee se beplanning wat eerskomende Vrydag deurgegee word."
Clifton Titus, hoof van Hoërskool Pacaltsdorp, sê hulle kommunikeer met hul ouers en leerders op hul skool se Facebook-blad. "Ons gaan 'n link stuur waar ouers en leerders al die leermateriaal kan aflaai vir selfstudie by die huis."
Titus sê baie leerders het leesvaardigheidsprobleme en dus moedig hulle ouers aan om saam met leerders te lees.
Hy voel hul grootste kopseer is leerders wat op plase woon. "Ons dink daaraan om die plaaslike polisie betrokke te kry om notas af te lewer aan daardie leerders."
Hy vra dan ook leerders wat handboeke het, om by te bly en dit te gebruik.
'n Ouer van York High sê daar word met hulle gekommunikeer op die D6-toep en ook op die WhatsApp-groepe. "Ek het 'n matriekleerder en dis 'n bekommernis vir ons almal. Want is wat gedoen word genoeg?"
Die Eden HTS is ook genader oor hoe hulle te werk gaan asook Laerskool Outeniqua, Hoërskool George, Parkdene Sekondêr en andere. Baie van die skole maak gebruik van die skool se Facebook-blad of WhatsApp-groepe om met ouers en leerders te kommunikeer rakende leer kanale.
Sekere onderwysers van Parkdene Sekondêr maak lesse beskikbaar op hul Facebook-blad en verduidelik ook wat presies gedoen moet word. Die platform wat HTS gegee het, is https://sites.google.com/view/htseden/home.
Laerskool Outeniqua het reeds op 2 April met leerders gekommunikeer dat lesse op www.worksheetcloud.com/live beskikbaar is vir alle grade.
Many local primary and high schools are providing their learners with study material to be able to continue their schooling at home during the lockdown. Most of them use electronic platforms such as the schools' Facebook pages, WhatsApp groups and the D-6 application.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'