GEORGE NUUS - Die program van die George-landbouskou wat van 29 Augustus tot 1 September aangebied word is weer propvol aktiwiteite vir jonk en oud. Hierdie jaar gaan daar ook 'n 'Skattejag' gehou word met groot pryse op die spel.
Deelnemers moet die 'Be George'-toepassing op hul selfone aflaai en dan by stalletjie 117 in die groot saal teen R5 per persoon inskryf vir die 'Skattejag'.
Met hul selfone sal daar aan hulle sekere punte op die terrein aangewys word waar hulle moet besoek aflê en sal die besoek dan registreer op die toepassing.
Die organiseerders beoog om punte op die terrein te kies wat fokus op landbou-aktiwiteite en hierdeur gaan hulle poog om veral kinders se belangstelling in landbou te prikkel. Wanneer al die punte besoek is, word jy outomaties ingeskryf vir die kompetisie van die dag, waar groot pryse daagliks gewen kan word.
Op Saterdag 1 September, sal 'n algehele wenner vir die Skattejagkompetisie aangekondig word.
Nog 'n hoogtepunt by vanjaar se skou is die nasionale Jersey-kampioenskappe.
Die skaapskeervertoning sal op Vrydag 31 Augustus plaasvind.
Die trekperde sal ook weer te sien wees en die skougenootskap bied in samewerking met die Suid-Kaap Kollege 'n kaas-en-wynfees.
'n Ontwikkelingsportfees waaraan ontwikkelingspanne deelneem is ook op die agenda en sluit in bergfiets, padwedloop, toutrek, kragoptel, liggaamsbou, kragman en inheemse spele.
Milagro Amy van Andrew Masterson is in 2017 gekroon as die Opperste Vleisbeeskampioen. Die kroning van die 2018-kampioen vind Saterdag 1 September om 12:00 plaas.Saam met Milagrow Amy is van links: Pieter Oelofse, Erich Schulenberg (beoordelaars), Seun (hanteerder), Andrew Masterson (eienaar) en Emil Pretorius.
Die George-landbouskou vind plaas van 29 Augustus tot 1 September.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'