Gallery
GEORGE NUUS - Senior burgers van die Golden Oldies klub het Dinsdag op Wêreld Diabetesdag 'n interessante en leersame oggend geniet danksy 'n diabetesbewusmakingsprogram wat die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement aangebied het.
Hulle het in hul gebruiklike saal in Mandela Boulevard byeengekom waar daar eers 'n ysbreker in die vorm van 'n oefensessie gehou is met onder meer balspeletjies, teikenskiet en naellope.
Claudel Draai, gesondheidspromotor by die departement, het oor selfbestuur gesels en seniors ingelig oor die belangrikheid van die korrekte manier om chroniese medikasie te neem asook die rol wat dieet speel in die beheer van chroniese toestande.
Beatrie Zandberg, dieetkundige van die departement, het die onderwerp van koskeuses en die verstaan van kosetikette aangeraak.
Lede is ook geweeg, hul suikervlakke is getoets en hulle het aan 'n vasvra oor diabetes deelgeneem.
Elkeen het ook 'n onderneming onderteken om gedurende November sekere ongesonde kossoorte te vermy.
Die oggend is afgesluit met verversings.
Departementele personeel en van die seniors van die Conville Golden Oldies met die vorms waarop hulle 'n onderneming geteken het om sekere kossoorte gedurende November te vermy. Van links is Claudel Draai (gesondheidspromotor by die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement), vader Erroll Frans (lid van Golden Oldies), Rachel Joubet (op 85 die klub se oudste lid), Lesley Ruiters (die klub se programkoördineerder), Patricia Trantraal (Golden Oldie), Beatrie Zandberg (dieetkundige by die Gesondheidsdepartement) en Fransiena Claassen (Golden Oldie).
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'