Die Eden Distriksmunisipaliteit en Departement van Waterwese en Bosbou het saamgespan om werkers op plase van behoorlike latrines te voorsien en tot op hede is meer as 3500 eenhede opgerig.
Die projek is ses jaar gelede in die Uniondale-gebied begin en toe ook uitgebrei na Oudtshoorn, Kannaland, Mosselbaai en Hessequa. Op die oomblik is dit George se beurt, gevolg deur Knysna en Bitou.
In Geelhoutboom, Jonkershoek en Moe-rasrivier kry 78 families toegang tot VIP (ventilated improved pitlatrines) -latrines en sal hulle ook opgelei word in die belangrikheid van higiëne. ‘n Totaal van R476 000 is hiervoor bewillig.
Leke-opvoeders sal opgelei word om die verband tussen goeie gesondheid en sani-tasie aan plaasbewoners oor te dra.
Clive Africa, Eden se hoof van gemeenskapsdienste, sê kindersterftes hou direk verband met gebrekkige sanitasie. "Soos die gesegde lui, ‘cleanliness is next to godliness’. Ons kan nie net geriewe oprig en verkas nie. Mense se gewoontes moet verander en dit kry ons net reg met opleiding."
Johan Campion, hoof van munisipale en omgewingsgesondheid, sê ‘n nuwe dimensie in die hantering van afval en rommel op plase is nodig. "Rommel mag nie op plase ophoop nie. ‘n Geïntegreerde afvalplan is nodig."
Die voorsitter van die gemeenskapsdienste-portfolio by Eden, raadslid Piet van der Hoven het gesê die lot van die armes lê die munisipaliteit na aan die hart.
"Ons gee om vir hulle en doen alles moontlik om mense se lewens te verbeter."
Artikel en foto's: Ilse Schoonraad
.jpg)
Clive Africa, Eden-gemeenskapsdienstebestuurder (links) en gemeenskapsdienste se portfoliovoorsitter, raadslid Piet van der Hoven (regs) deel in die gemeenskap se vreugde. (Foto: Kholiswa Masiza, Eden Distriksmunisipaliteit)
.jpg)
Johan Campion, hoof van munisipale en omgewingsgesondheid, sê afvalhope soos hierdie op plase is totaal onaanvaarbaar.