Update
GEORGE NUUS - Die saak waarin George-raadslid Iona Kritzinger van crimen injuria beskuldig is, is nou iets van die verlede. Die senior staatsaanklaer het die saak teruggetrek en die dossier gesluit.
Kritzinger het dié boodskap op 19 November verlede jaar ontvang, sowat twee en 'n half maande na die saak aanhangig gemaak is.
"My ouers en kinders is deur 'n helse drama. 'n Mens kan nie net jou skouers optrek en wegloop van dit nie." Só het Kritzinger gesê na afloop van die saak.
Kritzinger is deur George se hoofwets-toepassingsbeampte, Siyasanga Vandala, daarvan beskuldig dat sy die k-woord gebruik het. Die voorval het glo verlede jaar, 2 September, gebeur toe Kritzinger 'n kwessie oor haweloses in Dormehlsdrift, waar sy die DA-party verteenwoordig, aangemeld het.
Kritzinger het deurentyd ontken dat sy die k-woord gebruik het. Sy het 'n teenklag van crimen injuria teen Vandala gelê.
LEES MEER: Councillor accused of using racial slur
Vandala wou vandeesweek geen kommentaar oor die kwessie lewer nie. Op 'n vraag of hy steeds in George werksaam is, het hy beleef verskoning gemaak, en gesê hy wil eerder nie enige kommentaar lewer nie.
Munisipale woordvoerder, Chantél Edward, het bevestig dat Vandala na George-munisipaliteit gesekondeer is, maar wou geen verdere kommentaar oor personeelaangeleenthede verskaf nie.
Vandala beskik oor 'n permanente pos by Bitou-munisipaliteit as hoofwetstoepassingsbeampte.
Hoofwetstoepassingsbeampte, Siyasanga Vandala
Foto: Facebook
Wonde
Behalwe vir 'n saak van crimen injuria, is daar ook destyds 'n klagte by die Menseregtekommissie teen Kritzinger gelê. Dit is onseker wie die klag gelê het. Nou is alles verby en sy moet aangaan.
Kritzinger wil graag die saak verder neem, maar 'n siviele saak kan haar bykans R100 000 kos.
"Is dit reg dat 'n mens iemand vals kan beskuldig, onder eed jok en weg-kom daarmee? En in die proses iemand anders se lewe heeltemal op sy kop draai? Dit is nie aanvaarbaar nie. Een ou in my wyk het vir my oor die telefoon geskree 'you are a f*%@n racist, and I won't vote for you.' Ek was in trane.
"Ek wou hof toe gaan en my onskuld bewys, dat George kan sien ek is nie die persoon wat hierdie ou [Vandala] my uitmaak om te wees nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'