GEORGE NUUS - Die droogtehulp- en humanitêre organisasie SA for Hope het onlangs 'n streekwinterkamp van die Suid-Kaap Landsdiens besoek om die organisasie aan die kinders bekend te stel.
Tagtig senior lede van die landsdiens van vier skole, wat op meriete gekies is, het die kamp van 11 tot 14 Julie by Schoemanspoort naby Oudtshoorn bygewoon.
SA for Hope se direkteur Pieter du Plessis en twee vrywilligers van dié organisasie, Kobus Volschenk en Api Koen, was deel van die SA for Hope-span wat met die kinders gesels het.
Die kinders het 10 'Boxes of Hope', kruidenierswarepakkies ter waarde van ongeveer R750 elk, vir SA for Hope opgemaak. Hulle moes die bokse vou, uitwerk watter items die kruidenierswarepakkie moet bevat, en dan ook die voorkant en bokant van die boks plak met die gepaste boodskappe.
Die video van SA for Hope se lied,
Boer se gebed, deur die plaaslike videograaf Wessel van Heerden gemaak, is ook vertoon. Die lied is geskryf deur Jovan Heyns van die George-gebaseerde sangpaar Jovan en Thelma. Hulle sing die lied saam met Steve Hofmeyr.
Daar is 'n sterk verbintenis tussen die landsdiensorganisasie, wat vanjaar 109 jaar oud is, en die landbou. Die organisasie is in 1914 deur 'n boer, mnr. C Stone, in samewerking met die departement landbou gestig om leerders meer te kon leer oor bewaring en landbou, om by hulle 'n liefde vir die omgewing te kweek, en hulle te leer om diensbaar te wees. Dit is waarna SA for Hope ook streef.
Tydens die streekkamp het die kinders 'n spesiale vrywilligerprogram by Buffelsdrift bygewoon waar hulle onder meer spekbome geplant het. Ander aktiwiteite het ingesluit die aanleer van 'n handvaardigheid, die leer van tegnieke vir oorlewing in die veld, en 'n besoek aan Wilgewandel en die Rust en Vrede-waterval.
Die kampers vir die nasionale kamp wat in Desember gehou word, is ook gekies. Sodra 'n leerder 'n skool by 'n nasionale kamp verteenwoordig, is dit gelykstaande aan SWD-kleure in landsdiens.
Enigiemand of leerder wat betrokke wil raak by die Suid-Kaap Landsdiens, kan Hein Marais WhatsApp by 082 896 3148.
Van die 'Boxes of Hope' wat die landsdienskinders gepak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’