Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ruben Erasmus (9) het reeds al ses die bergpieke in die Outeniquaberge buite George uitgehardloop: Vensterberg, Losberg, Cradockpiek, Georgepiek, Tierkop en Groenkop.
Weliswaar nie almal op dieselfde dag nie, maar hy het wel voorheen George- en Cradockpiek op een dag uitgedraf.
Op 25 September het hy Tierkop en Groenkop op dieselfde dag aangedurf en klaargemaak. Dit was deel van die Two Peak Challenge en hy het meer as 25 km kafgedraf.
Wanneer hy sy hardloopskoene aan het, is daar geen keer aan hom nie. Soms durf hy die roetes saam met sy familie se Jack Russell, Skollie aan. Sy ouers, Jaco en Heidi en sy ouer sussie, Anneke, is ook ywerige hardlopers.
Hulle woon op 'n plaas buite George en volgens sy ma, Heidi, kla Ruben nooit nie. As daar 'n hek opgemaak moet word, sal Ruben sommer bo-oor klim.
Ruben, 'n gr. 3-leerling aan Laerskool George-Suid, se hardlopery teen die berg het sowat twee jaar gelede in alle erns begin. In die tydperk het hy al die pieke uitgehardloop. Volgens Ruben was dit moeilik, maar hy het dit geniet. Hy wil daarmee aanhou.
Kyk 'n video hieronder:
Wanneer hy so hardloop is daar nie veel tyd vir dink nie. Hy dink maar hoe ver dit nog is om klaar te maak.
Een van sy mikpunte is om aan die Six Peak Challenge deel te neem. Dit behels 'n wedloop waar al ses pieke op een dag aangedurf word.
Volgens Jaco is die terrein opdraande en moeilik. Op een van die roetes is daar selfs 'n tou wat hardlopers moet gebruik.
Ruben Erasmus saam met die familie se hond, Skollie, teen die berg.
Jaco hardloop gewoonlik saam met Ruben, maar kon nie altyd nie, as gevolg van 'n kniebesering.
Ruben het Eddie en Jacques Mouton bedank vir hulle hulp en ondersteuning.
Volgens Eddie is daar sowat 3 500 m se klimme teen die berg. "Daar is 'n paar moeilike klimme teen die berg. Dis 'n prestasie vir 'n kind om dit reg te kry. Daar is selfs dele wat vir grootmense moeilik is."
Ruben Erasmus (voor) saam met sy familie. Links staan sy ouer sussie Anneke, sy ma Heidi en sy pa, Jaco. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'