Kwaggas se wynveiling-kampioene, Roelof en Annalie van Dolderen met die 2008 La Motte Shiraz.
GEORGE NUUS - Besondere geesdrif onder die bykans 400 gaste het daarvoor gesorg dat die 8ste Van Rensburg Foods se Wine & Dine vanjaar alle verwagtinge oortref het en 'n rekordbedrag van R227 000 ingesamel is.
Die Pinotage-koning, Beyers Truter van Beyerskloof, het as afslaer met elke lot wat opgeveil is, die gaste met sy kwinkslae tot groot hoogtes aangespoor.
Die 8ste Van Rensburgs Foods Wine & Dine van die Kwagga-trust is op 24 Julie in die George-burgersentrum aangebied.
Volgens Johan Botha, die hooforganiseerder, was 80 verskillende wynkelders van-oor die land verteenwoordig. Nie net was die totale inkomste 'n rekord nie, maar die oë het ook gerek toe 'n 1,5l cabernet sauvignon van Lê Riché Kelder die reusebedrag van R10 000 gehaal het en 'n 5l Shiraz van die La Motte-kelder niks minder nie as R25 500 gehaal het. Dr. Werner Spies het die sauvignon gekoop en Roelof van Dolderen van Margot Swiss die Shiraz.
'n Pragtige swarthout-wynkas geskenk deur Botha en Barnard-meubelmakers, is deur Andries Troskie vir R13 500 gekoop.
Gaste is op 'n smaakvolle wyse getrakteer met 'n keurige driegang-ete deur Kwagga Cuisine, die skool se departement gasvryheidstudies, voorberei. Die Van Rensburgs Foods "Wine & Dine" wat gesamentlik deur die Kwagga Trust, die NG Kerk Calitzdorp en die Calitzdorp wyn kelders - Boplaas, De Krans en Calitzdorp kelders aangebied word, is een die
Kwaggas se hoogtepunte elke jaar.
Hierdie is die Kwagga Trust se jaarlikse gemeenskapsprojek, uit die inkomste word onder andere skenkings gemaak aan Calitzdorp se kerk, die Emmaus Sentrum vir Volwasse Gestremdes, Carpe Diem, Môreson Kinderhuis en Hoërskool Outeniqua se wylsynsprojek in Geelhoutboom.
Die voorsitter van die Kwagga Trust, Johan Venter, wil graag die gemeenskap, Hoërskool Outeniqua se personeel en alle betrokke wynkelders bedank vir hul onbaatsugtige bydraes, betrokkenheid en harde werk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'