Gallery
GEORGE NUUS EN GALLERY - Nie eers reën kon Saterdagaand die geesdrif by Outeniquapark demp tydens die jaarlikse Cansa Relay For Life nie.
Deelnemers het al van kort na 17:00 begin opdaag. Sowat 226 dagbesoekers en 18 sakeonder-nemings het van een tot drie spanne ingeskryf, wat gelei het tot sowat 25 spanne.
Die geleentheid kon nie die laaste twee jaar gehou word nie, as gevolg van die Covid-19-regulasies.
PHOTO GALLERY: CANSA Relay for life 2022
Cansa Relay For Life word aan-gebied om die oorwinnaars van kanker te eer, die te onthou wat hulle stryd verloor het en hoop te gee aan die wat steeds die pad met kanker stap.
Deelnemers kon op 'n vooraf uitgewerkte baan stap. In die verlede het deelnemers tot die volgende oggend met sonsopkoms gestap. Dit simboliseer om te stap uit die donker na die lig. Dit is egter laat vaar as gevolg van Covid-regulasies.
Tydens Saterdagaand se geleentheid het Dr. Scribante en vennote, saam met hulle gelukbringer Mary-Jo, 'n welkome R25 000 aan 'n dankbare Kansa oorhandig.
Dr. Scribante en vennote, wie se deelnemers in pienk geklee was, het die meeste deelnemers naamlik 35 gehad.
Nadat die spanne bekendgestel is en die Volkslied gespeel is, het kankeroorwinnaars kort na 18:00 'n voorbeeld gestel en 'n rondte om die baan gestap.
Heerlike musiek is gespeel en oud en jonk het die geleentheid geniet.
Die plan was dat deelnemers sou stap tot middernag. Later het dit liggies begin reën en deelnemers het aanhou stap.
Toe die donderweer egter begin opsteek is besluit om die geleentheid te verkort as gevolg van veiligheidsoorwegings. Adri Odendaal, Kansa volhoubaar-heidskoördineerder vir die Suid-Kaap, het Maandag gesê dit was 'n groot sukses en die geleentheid gaan weer volgende jaar plaasvind.
Sy het gesê indien daar mense is wat vrae het oor Kansa se fondsinsamelingsprojekte en die Cansa Relay For Life is hulle welkom om met haar in verbinding te tree by 072 133 0444 of aodendaal@cansa.org.za.
Van die deelnemers aan die geleentheid.
Zylia Rijksen (links) en Chairmane Boshoff tydens Saterdagaand se geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
Lees vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'