Ons kan nie as middeljarige mans en vrouens in munisipale raadsvergaderings sit en dink ons kan soos in die Britse parlement maar net sê wat ons wil nie. Die artikel hierdie week oor die moles in die Eden-raadsaal waar gemoedere so hoog geloop het dat die speaker die vergadering moes verdaag, is 'n perfekte voorbeeld van hoe gou dinge kan skeefloop.
Die DA se hoofsweep het vir die (meestal ANC) opposielede gesê om op te hou met hulle "twak".
Vir die meeste Afrikaanssprekendes maar 'n baie flou plaasvervanger vir sy sterker drieletter broertjie, maar vir swart mans en vrouens teen wie dit gemik is, gee dit geweldig aanstoot komende van 'n bejaarde wit man.
Ek kan insien hoe die hoofsweep dit bedoel het, maar as jy dit aanhoor vanuit jou voorheen benadeelde en onderdrukte perspektief, klink dit heel anders - neerbuigend, aanmatigend en beledigend.
Daar word dikwels veel erger goed na die Afrikaner geledere in raadssale geslinger, maar ons moet meer sensitief met ons geskiedkundige bagasie omgaan.
Dis soos nou die dag in die parlement toe die een EFF-lid van 'fokol' praat en toe skerp oor die vingers getik is.
Maar waar het die EFF-lid die woord geleer?
Afrikaners in gesagsposisies gebruik dit so dikwels ten aanhore van swart kolegas of werknemers, dat die woord vir tweede of derdetaalsprekers van Afrikaans algemene spreektaal is.
Net soos die deesdae baie gewilde proteswoord, 'voetsek'.
Dit kom glo van oud-Nederlands 'Voete, sê ek!' wat beteken 'vat die pad'. Maar ek dwaal af. Hê, hê...
Ons moet omthou van die tradisionele 'great devide' en nie die gaping groter maak nie.
As jou ouers en ander voorsate tradisioneel die wit Afrikanerman as die onderdrukker gesien het, is dit baie moeilik om sy hedendaagse uitsprake in konteks te sien.
Ons demokrasie is nog te jonk vir dié stereotipe om te perd in 'n stofwolk oor die randjie te verdwyn.
'n Swart politikus kan maklik dink dat die grys, wit man in die opposisiebank op hom neersien en hom as minderwaardig bejeen.
En dit 'vertaal' hy of sy dan as rassisties.
Die mense in die raadsaal moet hierdie dinamika verstaan en respekteer. Dis moeilik om jou tong te byt wanneer jy met heethoofde en politikery gekonfronteer word, maar dis wat almal moet doen.
Empatie is kardinaal as ons vordering in ons raadsale wil maak anders gaan ons net altyd verbale klappe oor die politieke- en rasgrense na mekaar mik.
Tot die stereotipes in ons raadsale en samelewing nie begin kwyn nie, sal ons in die politiek net so min regkry soos die 16 Dae van Aktivisme Veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders.
Boggerol.
Aan die ander kant sal dit die heethoofde van die ANC en veral die EFF ook goed doen om te besef dat jy wel by iemand anders iets kan leer - al is hy oud en wit.
Die hele ou relaas laat my dink aan die ou grappie: "Oom rook jy boom? Nee jou klein twak, ek rook tabak."