GEORGE NUUS - 'n George-inwoner wat R110 000 verloor het in drie verskillende kriptogeldeenheid-verhandelingsplatforms waaronder Mirror Trading International Pty (Ltd) (MTI), sê dit is vir hom uiters moeilik om te aanvaar dat spaargeld wat hy met moeite bymekaargemaak het, oornag weg is.
Dit was die hoë opbrengste wat vir hom aanloklik was, hoewel hy geweet het dat dit baie hoë risiko was.
Sors Grobbelaar het sy belegging tussen Blockflux, MTI en Finalmente Global verdeel wat almal fenomenale groei belowe het deur middel van handel in Bitcoin.
Dit het intussen aan die lig gekom dat Finalmente Global aan MTI gekoppel was. 'n Moontlike verband tussen MTI en BTC Global, 'n kriptogeldeenheid-verhandelingsplatform wat in 2018 inmekaargetuimel het, word ook ondersoek.
Finalmente is verlede week deur die Pretoriase hooggeregshof onder summiere likwidasie geplaas nadat drie beleggers 'n hofaksie van stapel gestuur het. In 'n boodskap aan lede op die maatskappy se webwerf sê Finalmente dat hy 'n groot deel van sy inkomste verloor het met MTI se ineenstorting weens "beleggings" by MTI en 'n "inkomstestroom uit advertensie" van MTI, een van sy grootste kliënte.
Volgens Finalmente was sy besigheid op advertensie-inkomste gebaseer. Finalmente se personeel is afgelê en enige verdere verhandeling is gestop, maar "... ons werk onverpoosd met die nodige professionele persone om 'n oplossing vir die probleem te vind ..." het die maatskappy op 9 Januarie gesê, drie dae voor die hooggeregshof se likwidasiebevel.
MTI, wat onder voorlopige likwidasie geplaas is, se uitvoerende hoof en stigter, Johann Steynberg, is landuit na Brasilië, volgens 'n verklaring van die maatskappy.
Beleggers in sy maatskappy is in Augustus verlede jaar deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gewaarsku om hulle geld uit die ongelisensieerde skema te onttrek.
'n Ondersoek is geloods nadat klagtes van beleggers ontvang is dat hulle nie hul beleggings kon terugkry nie.
Die owerheid het op Dinsdag 19 Januarie in 'n verklaring gesê sy ondersoek is afgehandel en hy sal sy verslag aan die likwidateurs beskikbaar stel. Beleggers wat wil eis, kan die likwidateurs kontak deur hul webwerwe (www.Tygerbergtrustees.co.za en www.Investrust.co.za). Eisvorms sal binnekort daarop beskikbaar wees.
Die likwidateurs is van mening dat die fondse of bates wat deur sekere lede van die publiek ontvang is nadat hulle in MTI belê het, onwettig mag wees en hulle gaan poog om dit te terug te kry, 'n proses wat die FSCA ondersteun.
Die FSCA het 'n kriminele saak aanhangig gemaak by die handelsmisdaadeenheid en sal die ondersoek ondersteun, het hy in die verklaring gesê. "Die FSCA skenk nou oorweging aan administratiewe stappe teen die individue en entiteite wat betrokke is in die saak."
'Verwagting nie dat mense met jou geld wegloop'
Grobbelaar sê, "'n Mens belê met die verwagting dat dit hoë risiko is, maar nie dat mense met jou geld gaan wegloop nie. Geen mens gee sommer net geld vir iemand wat dit gaan steel nie. Die waarde wat ons beleggings sou verdien het, was fenomenaal.
"Die groei en betalings was daar, maar toe ontplof dit in ons gesig. Dit was darem nie my broodgeld nie, maar daar is ander mense wie se lewens verwoes is."
Blockflux, wat 'n Finse uitvoerende hoof het, se webwerf en Facebook-blad is in November verlede jaar sonder waarskuwing gesluit. Daar was nog geen kommunikasie met sy "lede" nie, volgens 'n ontstoke belegger van George wat anoniem wil bly.
'Vriende se invloed, finansiële teenspoed of gierigheid is motivering'
'n Plaaslike finansiële adviseur, Deona Meyer van die Securitas Finansiële Groep, sê dit is gewoonlik persone wat nie kan bekostig om enige finansiële risiko te neem nie wat val vir vinnige-geldmaak-skemas.
"Die invloed van vriende en kennisse wat groot suksesse met hoërisikobeleggings behaal het, speel 'n groot rol in hierdie besluitneming. Die groot faktor in menslike gedrag wat ook 'n rol speel, is gierigheid. Mense se geheue is ook uiters kort en hulle vergeet dikwels van die vele waarskuwings in die media ten opsigte van hoërisikobeleggings."
Volgens Meyer gebeur dit ook meer dikwels in tye van lae bankkoerse soos ons die afgelope jaar ervaar het en wanneer mense sukkel om finansieel kop bo water te hou. Hulle begin dan al meer kanse waag of risiko's neem.
Sy waarsku teen beleggingskoerse wat aansienlik hoër is as bankkoerse. Maak seker die beleggingsmaatskappy is geregistreer by die FSCA en vra raad by 'n bank of geakkrediteerde finansiële adviseur.
Is spekulering met Bitcoin en valuta aan te bevole? "Daar is beleggers wat altyd hierdie opsies sal oorweeg. Indien 'n kliënt wel besluit om hierin te belê, maak seker dat die risiko's verstaan word. Die gevaar is dat groot verliese gely kan word. As jy wel sou besluit om hierin te belê en verliese ly, moet dit nie 'n wesenlike impak op jou finansiële welvaart veroorsaak nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'