GEORGE NUUS - Padwoede blyk die motief te wees vir 'n voorval waarin 'n man en sy meisie na bewering verlede Saterdag 'n lesbiese paartjie in Hoogstraat aangerand het.
Die paartjie, wat verkies om anoniem te bly, sê hulle was Saterdag 22 Februarie omstreeks 22:00, op pad huis toe uit die middedorp toe 'n man en 'n vrou in 'n donkergroen voertuig, blykbaar 'n Hyundai Elantra, hulle in Hoogstraat aangerand het.
"Ons het in Hoogstraat afgedraai toe die kar ons verbysteek en skielik voor ons stop. Ons kon nie vinnig genoeg stop nie en het die Elantra liggies getref," vertel sy.
Die man en sy meisie, wat volgens die slagoffers onder die invloed van drank was, het uit die kar geklim en die vroue verskree.
Volgens hulle het die vrou die Elantra bestuur en kort voor die aanranding byna 'n ongeluk veroorsaak toe sy hulle in Hoopstraat probeer verbysteek het.
"In Hoogstraat het my verloofde uit die kar geklim. Daar was 'n konfrontasie en die man het haar begin slaan. Voor ek kon keer, het sy meisie my aan die hare beetgekry en was hy besig om my verloofde pap te slaan. Ek het weggekom en my broer probeer bel, maar die man het my gesien en my en die foon op die grond neergegooi. Hy het my geskop en geskree 'ek is moeg vir julle lesbians!' Toe hy my los om weer my verloofde aan te rand, het sy meisie my met die selfoon in die gesig gegooi."
Die bebloede selfoon waarmee die slagoffer klaarblyklik teen die kop gegooi is.
Volgens die slagoffers het al die rumoer mense gelok en toe die man en vrou die omstanders sien, het hulle die hasepad gekies.
George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, het bevestig dat 'n klag van ernstige aanranding by die polisie aangemeld is, maar dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Wyksraadslid, Sean Snyman, wat van die voorval te hore gekom het, het dit as onaanvaarbaar beskryf.
"Ek voel dat ons die saak dringend moet ondersoek. Indien iemand skuldig bevind word, verwag ek dat 'n sterk boodskap uitgestuur sal word deur die maksimum vonnis op te lê. Dit is onaanvaarbaar dat 'n man onder enige omstandighede sy hand vir 'n vrou lig," sê hy.
*Die ander slagoffer het verkies om nie foto's van haar beserings aan die George Herald te stuur nie.
Die slagoffer het steke ontvang na sy met 'n selfoon teen die kop gegooi is.
Dadelik na die voorval het die meisies mediese hulp by die hospitaal gesoek.
Road rage appears to be the motive for an incident in which a man and his girlfriend allegedly assaulted a lesbian couple last Saturday in High Street. The couple, who chose to remain anonymous, were on their way home after supper in the CBD on Saturday 22 February when a dark green vehicle, apparently a Hyundai Elantra, tried to overtake them shortly before the circle in Hope Street and almost collided with an oncoming car. When the girls turned left at the circle into High Street, the Elantra apparently overtook them and stopped in front of them after which the assault started.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'