GEORGE NUUS - Die beheerraad van Laerskool George-Suid kla die verkeer is soggens en smiddae chaoties sedert George-munisipaliteit paaltjies op sypaadjies rondom die skool geplant het om te verhoed dat ouers daar stop wanneer hulle kinders op- en aflaai.
Volgens die voorsitter van die beheerraad, Servaas de Kock, is daar in Januarie vanjaar paaltjies op die hoeke van die skool aangebring.
"In Februarie het ons 'n formele skrywe aan die munisipaliteit gerig en ons ongelukkigheid uitgespreek. Ons het versoek dat ons na alternatiewe oplossings moet kyk. Buiten kontak van die verkeersafdeling, het ons geen kommunikasie van die munisipaliteit ontvang nie. Na hierdie skrywe het die munisipaliteit net nog pale opgerig wat die verkeer vererger.
"Ons voel dat Laerskool George-Suid onregverdig uitgesonder word en dat dieselfde optrede nie by alle skole plaasvind nie. Parkering is 'n probleem by alle skole in George, maar daar word net pale opgerig by George-Suid."
'n Ma, wie se kind by Heeltyd Speeltyd-kleuterskool aan die oorkant van die straat ingeskryf is, sê sy gaan haar nou uithaal en skuif na 'n ander skool omdat die verkeer tydens openings- en sluitingstyd 'n saak van onmoontlikheid geword het.
"Motors staan nou in die straat om kinders op en af te laai, so die verkeer staan vir lang tye stil en dam in die systrate op vir 'n blok of twee verder aan."
De Kock sê hulle vrees nou vir die veiligheid van die leerders omdat motoriste gefrustreerd raak en in sekere gevalle roekeloos optree.
Maar George-munisipaliteit se senior kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, sê paaltjies is geplant ter wille van voetgangers en veral leerders wat tot op hede vir hul eie veiligheid moes skerm terwyl die sypaadjies onwettig vir parkering gebruik is. Parkering op sypaadjies versper voetgangers se sigafstand en verder is kinders veral in gevaar omdat hulle nie sigbaar is van agter 'n voertuig nie.
"Konsultasie met die skool sou geregverdig gewees het as die parkering wettig was en nie 'n gevaar vir voetgangers ingehou het nie. Die munisipaliteit het opgetree in terme van Regulasie 305 van die Nasionale Verkeersregulasies."
Volgens Mangqwengqwe veroorsaak skade wat aan die oppervlak van sypaad-jies, randstene en mangate aangerig word, 'n onveilige loopoppervlak. As die munisipaliteit nie onwettige optrede aanspreek nie, is dit versaking van sy plig en kan hy verantwoordelik gehou word.
"Die munisipaliteit het toegewings gemaak deurdat die padreserwe langs die skool se grense as parkering gebruik mag word. Geen parkering is weggeneem nie, want daar was geen amptelike parkeerplek nie, en wat daar was, was onwettig."
Volgens Mangqwengqwe groei skole jaarliks en daar is 'n onus op hulle om maatreëls te skep om opeenhoping aan te spreek. 'n Busdiens kan ingestel word wat al klaar 'n groot aantal voertuie van die paaie rondom die skool kan af neem.
"Daar kan ook verseker word dat die parkering rondom die skool gebruik word as 'n aflaai-en-ry sone en dat lang gesprekke tussen ouers in die parkeerplekke nie plaasvind nie. Verder kan 'n reël ingebring word dat voertuie slegs anti-kloksgewys rondom die skool ry. 'n Skolierpatrollie kan ook help om leerders se veiligheid te verseker."
Verkeersdienste het bevestig dat daar gereeld verkeerspersoneel in spitstye na die skool gestuur word om veiligheid van leerders en motoriste te verseker. Ná 'n vergadering tussen die verkeersdepartement en die skoolhoof, het laasgenoemde onderneem om 'n voorstel aan die skool se beheerraad voor te lê vir oorweging.
'n Tentatiewe vergadering is intussen vir Vrydag 2 September tussen die skool en Lionel Daniels, adjunkdirekteur van stormwater en strate, belê.
Ontevredenheid heers omdat die munisipaliteit paaltjies op die sypaadjies rondom Laerskool George-Suid geplant het om te verhoed dat ouers daar parkeer om hul kinders op en af te laai. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'