GEORGE NUUS - George-munisipaliteit het onlangs 'n opleidingsessie vir alle nuwe wykskomitee-lede in die George munisipale gebied gehou. Tydens die inleidingsprogram op Donderdag
10 Augustus het wykskomiteelede geleer van die munisipale struktuur en die verskillende direktorate, hul verskillende verantwoordelikhede, kernsake en jaarlikse begrotings. Die speaker, Iona Kritzinger, was die programleier en 'n geleentheid is na die sessie vir 'n vraag-en-antwoordsessie gegun.
Die tweede opleidingsessie, verlede Vrydag, is by vier verskillende lokale aangebied. Die bespreking het die volgende ingesluit: Die funksies van plaaslike, provinsiale en nasionale regering, wetgewing rakende die openbare deelname-prosesse en wykskomitees, 'n oorsig van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en die rol van die wykskomitees in die onderskeie prosesse.
Vanaf 14 Augustus tot 6 September begin die wykskomiteesittings waar diensleweringskwessies vanuit die gemeenskap bespreek word. Inwoners kan die vergaderings bywoon, maar slegs as waarnemers. Die program vir die wykskomiteevergaderings is beskikbaar by die wykskomiteekantoor, derde vloer van die hoofgebou van George-munisipaliteit in Yorkstraat.
Vir navrae kontak Paulina Saaiman of Vuyiswa Ndzonda by 044 801 9439.
Wat is die rol van 'n wykskomitee?
Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998, maak voorsiening vir die vestiging van wykskomitees vir die bevordering van gemeenskapsdeelname in munisipale sake. 'n Wykskomitee is 'n wyksgebaseerde komitee, waarvan die grense deur die wyksgrense bepaal word. Die wykskomitee is die skakel tussen die raadslid en die gemeenskap.
Wykskomitees samel kwessies in oor die wyk vir die aandag van die wyksraadslid. Hulle het 'n sê (namens die gemeenskap) in besluite, beplanning, projekte, die geïntegreerde ontwikkelingsplan, prestasiebestuur en toekenning van fondse waaroor die raad besluit, wat 'n invloed het op die wyk. Wykskomitees stel inligting beskikbaar wat die munisipale prestasiebestuur en die begroting beïnvloed.
Wat is die rol van 'n wykskomiteelid?
• Om 'n aktiewe deelnemer in die wykskomitee te wees;
• Help die wyksraadslid om die gemeenskap in te lig oor hul regte en waarop hul geregtig is;
• Werk as 'n span en praat met een stem;
• Help die wyksraadslid met griewe en klagtes van die gemeenskap;
• Wys leierskap deur projekte te begin wat tot voordeel van inwoners is;
• Stel 'n wyksprofiel saam sodat die komitee meer oor die wyk leer;
• Help die wyksraadslid om met die mense oor 'n spesifieke probleem te konsulteer;
• Werk met vennote in die gemeenskap tot die wykskomitee se voordeel;
• Wees betrokke by gemeenskapsprojekte en gebeure;
• Neem aktief deel aan munisipale sake;
• Rapporteer alle diensleweringskwessies aan die wyksraadslid en munisipaliteit;
• Neem deel aan munisipale openbare vergaderings soos die GOP en terugvoervergaderings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'