GEORGE NUUS - Die polisie in Pacaltsdorp het gisteroggend, 16 Januarie, menslike oorskot in as in digte bosse naby Seemeeustraat in Andersonville gevind.
Volgens ingeligtes het inligting wat die polisie opgevolg het in die verdwyning van Masihano Carelse (17) van Pacaltsdorp, ondersoekers na die toneel in die bosse gelei. Masihano is laas op 23 Desember in Reigerpark gesien toe hy die huis waar hy gebly het, verlaat het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag gesê die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen na aanleiding van die vonds.
“Die ondersoek na die vermiste tiener het ons na die area gelei waar die oorskot gevind is. Deskundiges het die area gefynkam vir leidrade wat tans opgevolg word. Die polisie het ook DNS-monsters geneem wat na ons forensiese laboratorium gestuur sal word om die persoon se identiteit vas te stel,” sê Spies.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, ao. Joseph Rondganger skakel by 044 803 9134 of 073 946 6473.
Die is die derde liggaam die afgelope paar maande wat die polisie in dié area vind. Nog twee jong mans se liggame, Isaac-Lee Ismail Ayford en sy vriend en buurman, Andy Stoffels (25), is Saterdag 19 November 2022, naby die grotte langs die Schaapkoprivier gevind. Die rivier is naby Seemeeustraat.
Albei liggame is later die middag met behulp van die EMS-reddingshelikopter herwin.
Stoffels kon aan sy tatoeëermerk uitgeken word, maar Ayford se liggaam was té ver ontbind en is deur DNS-toetse geïdentifiseer. Die presiese oorsaak van die mans se dood moet nog vasgestel word.
Die polisie het ook hier ‘n geregtelike doodsondersoek dossier oopgemaak, maar na gelang van die volledige uitslae van die nadoodse ondersoek kan die klagte verander.
Die omstandighede rondom hul verdwyning en dood vorm deel van die polisie ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'