Update Video
GEORGE NUUS & VIDEO - George se geliefde Rayneé Meyer, wat in 2015 naam gemaak het as die ‘Wellington Waver’, is Maandagoggend omstreeks 02:00 in Eilandstraat, agter Laerskool Denneoord, aangeval en beroof.
Hy het aan die George Herald vertel dat hy op pad werk toe was toe twee mans hom oorval het. "Hulle het my heeltemal onverwags betrap. Een het my op die grond neergedruk en my gewurg terwyl die ander een my sakke deursoek het. Hulle het my ook met 'n skerp voorwerp gesteek. Al wat hulle gevat het, was my selfoon," sê hy.
Hy het met 'n blou oog en ligte steekwonde aan sy bolyf, rug, arms en hande ontsnap en die rowers het te voet gevlug.
In die onderhoud met Meyer het dit aan die lig gekom dat hy baie ontsteld was oor sy selfoon wat weg is. Hy was veral ontsteld omdat al sy musiek en foto's wat op die toestel was, nou verlore is.
"Hy het ná die aanval by die huis gekom, my wakker gemaak en gesê sy selfoon is weg. Toe sien ek eers al die bloed," het sy ma, Magaret, vertel.
Meyer het in 2015 ‘n oornagsensasie geword ná hy motoriste in Wellingtonstraat met ‘n groot glimlag en vriendelike gewuif begin groet het. Daarna het hy by die Shell-vulstasie in Courtenaystraat ‘n werksaanbod gekry om die selfde taak te verrig.
Hy is steeds 'n hoogtepunt vir baie mense wat verby hom ry in die oggende op pad werk toe.
"Die dokter het gesê ek kan Donderdag [vandag] weer gaan werk. Hy het ook vir my 'n skokstok gegee wat 'n flits aan het," vertel Meyer ingenome.
Teen druktyd was daar nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Steekwonde aan die kant van Rayneé se bolyf.
Die steekwonde aan Rayneé se bolyf.
Die George Herald se Facebook-plasing Dinsdagoggend oor Meyer se aanval het gewemel van kommentaar:
Liezl de Wit skryf: "Shocking, hoe wreed is die wêreld!!! Hy soek net liefde en vriendelikheid. Hulle MOET gevang word.!!!"
Adri Zeelie sê: "Sterkte Rayneé, ek hoop jy herstel gou-gou....mis jou mooi glimlag elke oggend by die garage....Oom Jan en Tannie Adri."
Ronell Muller Boshoff skryf weer: "Kyk net wat se geluk straal hy uit dan kom 'n barbaar en val hom aan."
Willem Botha skryf: "Soos ons elke oggend saam met jou lag en groet, so huil ons saam met jou, Rayneé. Seën vir genesing."
Myra Claassen: "Yoh ek't gewonder waar hy is. Mag God hom aanraak in die tyd en baie sterkte."
Ursula Gelderblom skryf ook: "Dis hoekom ek Rayneé vanaf Maandag nie sien by die garage nie. Sterkte Rayneé. Ons Hemelse Vader is by jou."
Die George Herald het ook, met Meyer en sy ouers se toestemming, 'n video-onderhoud oor sy ondervinding gedoen.
Kyk 'n video hieronder:
* George's beloved Rayneé Meyer, fondly known as the 'Wellington Waver', was attacked and robbed in Eilandstraat behind Denneoord Primary school on Monday morning at approximately 02:00. He told the George Herald that he was on his way to work when two men attacked him.
"They caught me by surprise. One pushed me to the ground and strangled me while the other one searched my pockets. They also stabbed me with a sharp object. All they took was my phone," he said.
Read previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'